Update
RIVERSDAL NUUS - Verskeie inwoners van Huis Wallace Anderson in Riversdal gaan die eerste DROOM-mylbyeenkoms op 1 April met hul rolstoele aanpak.
Maar daar is darem helpende hande wat 'n handjie gaan bysit om die rolstoele "ekstra woema" te gee om die eindpunt in Barrystraat, waar almal ook moet wegspring, veilig en sonder enige ongevalle te bereik. Dis darem baie gevra om te verwag dat 'n rolstoel en sy insittende die uitdagende 1 km-afstand sonder hulp moet aandurf.
Deelnemers het 'n groot keuse: hardloop, draf of stap die afstand. Of pak dit in 'n rolstoel aan.
André Koen, 'n kwadrupleeg van Riversdal wat in 2022 by die Outeniqua-rolstoelwedren vir Pieter du Preez, die Olimpiese wêreldkampioen, geklop het, het laat weet dat hy ook in sy rolstoel gaan deelneem.
Die eerste DROOM-myl wil oud en jonk betrek in die hoop dat dit die begin kan wees van nog groter dinge op die pad vorentoe. Juis daarom wil hulle skole aanmoedig om in groot getalle in te skryf. Leerdes in hul skoolkleure, wat in groot getalle teen hul buurskole deelneem, kan vir groot opwinding sorg.
Dink aan die afloswedlope wat onlangs by die Riversdal-skou soveel aftrek gekry het. Dié tendens kan homself hier herhaal.
Besigheidseienaars kan hul personeel in hul korporatiewe drag deel maak van die pret en avontuur en terselfdertyd bou aan hul werknemers se spangees. Daar is niks soos gesonde kompetisie om die adrenalien te laat vloei en die groepsamehorigheid te versterk nie.
Dit laat die vraag: watter besigheid gaan die DROOM-myl die beste ondersteun. Die antwoord sal waarskynlik later op Saterdag, 1 April, bekend gemaak word.
Vir toeskouers sal daar pannekoek, worsbroodjies, koeldranke en water te koop wees. Kom ondersteun die droommylers.
Die DROOM-myl begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per deelnemer. Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word. Kyk ook op Facebook, DROOM Tehuise/Old Age Homes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’