RIVERSDAL NUUS - Verskeie inwoners van Huis Wallace Anderson in Riversdal gaan die eerste DROOM-mylbyeenkoms op 1 April met hul rolstoele aanpak, maar daar is darem helpende hande wat 'n handjie gaan bysit om die rolstoele "ekstra woema" te gee om die eindpunt veilig en sonder enige ongevalle te bereik.
Deelnemers het 'n groot keuse: hardloop, draf of stap die afstand - of pak dit in 'n rolstoel aan.
André Koen, 'n kwadrupleeg van Riversdal wat in 2022 by die Outeniqua-rolstoelwedren vir Pieter du Preez, die Olimpiese wêreldkampioen, geklop het, het laat weet dat hy ook in sy rolstoel gaan deelneem.
Besigheidseienaars kan hul personeel in hul korporatiewe drag deel maak van die pret en avontuur en terselfdertyd bou aan hul werknemers se spangees.
Vir toeskouers sal daar pannekoek, worsbroodjies, koeldranke en water te koop wees. Die DROOM-myl begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per deelnemer.
Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word. Kyk ook op Facebook, DROOM Tehuise/Old Age Homes.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'