RIVERSDAL NUUS - Roger Bannister, 'n 25-jarige mediese student van Oxford Universiteit, het op 6 Mei 1954 die eerste atleet geword om die myl in minder as vier minute af te lê.
Hy het dié droommyl in 3 min 59,4 sekondes voltooi en die atletiekwêreld aan sy voete gehad.
Op 1 April vanjaar word daar weer geskiedenis gemaak wanneer Riversdal sy eerste DROOM-myl aanbied, maar dié keer gaan dit nie oor wie die afstand in die vinnigste tyd kan aflê nie.
Hier is iets groters ter sprake. Hier gaan dit daaroor om die hele gemeenskap by dié DROOM-myl betrokke te kry.
Oud en jonk, maeres, vettes, fikses, individue, besigheidseienaars en hul personeel, ampsdraers, politici, kerklui - die hele kaboedel.
Of jy nou die myl wil afdraf, stap, kruip, in 'n rolstoel gestoot word of dit met jou kierie of loopraam wil aflê, die keuse is joune. Spanne kan saam draf en snaaks aantrek om die mylwedloop in 'n feestelike atmosfeer te omtower. Kwadrupleë sowel as ernstige atlete is almal welkom.
Die wedloop begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per persoon. Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word. Kyk ook op Facebook, DROOM Tehuise / Old Age Homes, of QR-kode.
Die Droom-myl is vir die gemeenskap, deur die gemeenskap.
Die klomp, jonk en oud, oefen solank vir Riversdal se eerste Droom-myl wat op Saterdag 1April aangebied word. Almal is welkom om deel te neem.
Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'