RIVERSDAL NUUS - As dit nog altyd jou droom was om die myl onder vier minute te hardloop, is dit nou jou kans om dit te bewys deur aan Riversdal se eerste Droom-mylbyeenkoms deel te neem.
Dit word op Saterdag 1 April aangebied en dis geen Aprilgrap nie.
Maar dis nie die doel van die Droom-mylbyeenkoms nie.
Die projek is vir die gemeenskap, uit die gemeenskap en hier kry Hessequa-inwoners 'n gulde geleentheid om dit met oorgawe te ondersteun.
Die Droom-myl kan die begin wees van iets baie groters, maar as die ondersteuning ontbreek sal die projek 'n stille dood sterf. Dis nou die één geleentheid wat inwoners kry om iets besonders in Riversdal te ondersteun en dit te help groei in iets waarop die dorp en al sy mense trots kan wees.
Dis glad nie vergesog om te droom dat die organiseerders in die toekoms Suid-Afrika se topmylatlete kan nooi om gravitas daaraan te verleen nie en dit tot 'n pronkitem op die Suid-Afrikaanse atletiekkalender uit te bou nie.
Naellopers, stappers, drawwers en fietsryers is almal welkom om aan die Droom-mylbeenkoms deel te neem. Niks verhoed skole om mekaar uit te daag en te kyk hoeveel van hul leerders kan deelneem en te wys watter skool spog met die beste langasems nie.
Dit geld nie net vir hoërskole nie, maar laerskole is net so welkom.
Die DROOM-myl begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per deelnemer. Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word. Kyk ook op Facebook, DROOM Tehuise/Old Age Homes, of gebruik die QR-kode.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'