Update
RIVERSDAL NUUS - Riversdallers kla maklik dat hier nie veel op die dorp aangaan nie. Maar as daar wel iets aangepak word, is hulle maar traag om dit te ondersteun.
Nou kry inwoners - en natuurlik enigeen in Hessequa - die gulde geleentheid om deel te neem aan 'n goeie saak - Riversdal se eerste DROOM-myl, wat Saterdag, 1 April hier aangebied word.
Hier gaan dit daaroor om die hele gemeenskap by dié DROOM-myl betrokke te kry. Oud en jonk. Maeres, vettes, fikses, individue, besigheidseienaars en hul personeel, ampsdraers, politici, kerklui - die hele kaboedel.
Of jy nou die myl wil afdraf, stap, kruip, in 'n rolstoel gestoot word of dit met jou kierie of loopraam wil aflê, die keuse is joune. Spanne kan saam draf en snaaks aantrek om die mylwedloop in 'n feestelike atmosfeer te omtower. Kwadruplieë sowel as ernstige atlete is almal welkom.
Vir toeskouers sal daar pannekoek, worsbroodjies, koeldranke en water te koop wees. Kom ondersteun die droommylers.
Die DROOM-myl begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per deelnemer.
Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word. Kyk ook op Facebook, DROOM Tehuise/Old Age Homes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’