RIVERSDAL SPORT NUUS - Die plaaslike rolbalklub bied vanjaar vir die tweede keer 'n fondsinsamelingsgeleentheid vir KANSA aan.
"Adri Odendaal van die KANSA-streekkantoor het ons genader vir 'n fondsinsamelingsgeleentheid by die klub. Ons het voorgestel om die aand van 12 Maart opsy te sit om soos verlede jaar tydens ons sosiale rolballiga-aand vir hulle geld in te samel," sê Louw Bester, sekretaris en tesourier van die klub.
"Ons raak graag betrokke omdat ons 'n bydrae wil lewer om hulle in staat te stel om die belangrike werk te doen," sê hy.
"Baie van ons klublede en sosiale spelers het 'n geliefde of familielid wat deur kanker geraak is en ons voel geroepe om deel van so insamelingsaksie te wees. Ons wil graag ons deel doen, hoe gering dit ook al mag wees."
Tydens 2019 se geleentheid is R2 640 ingesamel en aan KANSA oorbetaal. "Ons glo ons kan dié bedrag vanjaar oortref. Ons moedig spanne aan om vriende en familie saam te bring, want ons wil hê die aand moet 'n groot sukses wees."
Volgens hom word al 24 spanne van vier spelers elk aangemoedig om dié aand pienk klere te dra. "
Hulle is ook reeds per WhatsApp-boodskap versoek om 'n finansiële bydrae te maak. Van ons lede sal Donderdagaand tussen die spelers beweeg en die geld insamel," verdui-delik hy. 'n Supermark sal soos gewoonlik etes by die klub verkoop.
Kontak Bester by 082 832 0001 of stuur 'n e-pos na besterdj5@gmail.com vir meer inligting.
Vorige artikel: Rol die balle vir KANSA
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'