Update
HESSEQUA SPORTNUUS - Al moes die Heidelberg Groot Pampoenfees vanjaar letterlik 'n mini-Pampoenfees wees, kon die plaaslike rolbalklub vanjaar op Saterdag, 27 Maart weer 'n kompetisie as deel van die fees aanbied.
Klubs van omliggende dorpe, naamlik Barrydale, Ladismith, Riversdal en Swellendam, asook Heidelberg het deelgeneem.
"Die spelers kon 'n heerlike maaltyd geniet wat deur André voorberei is, met die gevolg dat hulle met vol mae baie harder na middagete moes konsentreer. Daar is selfs verneem dat 'n speler op sy voete aan die slaap geraak het," vertel John Evert, klubpresident.
Riversdal-rolbalklub het die eerste plek ingeneem, met Heidelberg tweede en Swellendam derde.
Pampoene het in die klubhuis gerol en is saam huis toe gestuur, dus gaan baie gesinne lekker pampoenkoekies en -geregte vir die res van die maand verorber.
Die eerste drie spanne het pragtige geskenke as pryse ontvang. Almal het die dag baie geniet en dit was 'n reusesukses.
"Ons is trots om deel van die Groot Pampoenfees te wees en wens hulle geluk met vanjaar se suksesvolle fees. Ons het gesorg dat ons aan al die nodige Covid-19-vereistes voldoen, soos deur Rolbal Suid-Afrika voorgeskryf," het Evert afgesluit.
Die klubpresident van Heidelberg-rolbalklub, John Evert staan by Riversdal-rolbalklub se wenners: Charldré Saayman, Marie Boschoff en Marius Saayman.
Heidelberg was in die tweede plek. Hulle is Trinette Evert, Gilbert Roberts en Rowhan Roberts. Sophia Bischoff, vise-president staan heel regs.
John Evert (tweede van links) het Swellendam se pryse aan Graham McDonald, Chris Eccles en Schalk Pienaar oorhandig.
Vorige artikel: Heidelberg-rolbalklub rol ook vir fees
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'