Update Video
RIVERSDAL ROLBALNUUS EN VIDEO - Die jaarlikse Presidentsdag, onder leiding van Riversdal-rolbalklub se president, Veronica Enright, het Saterdag, 10 April plaasgevind.
Die dag se verrigtinge is ook deur die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en speaker Andrew Stroebel bygewoon. Hulle het selfs elk 'n bal in die kringrol (Spider) ten bate van Droom gerol.
Ander belangrike belanghebbendes wat deel tot die sukses van die dag uitgemaak het, was die president van Eden Bowls, Tom Strydom, Jacobus 'Prof' Stadler en prof Rossouw von Solms.
"Dit was 'n absolute voorreg dat ons die president van Eden Bowls hier kon ontvang en hom te sien speel op ons bane. Professor Stadler is ook 'n Eden-speler en is baie by ons klub betrokke deur die Personal Trust jaarlikse en mini-borgdae vir ons moontlik te maak , asook die raad wat hy aan lede op die baan verskaf," het Charl Nortjé, mediabeampte gesê.
"Professor Rossouw von Solms, president van Vista-rolbalklub is 'n baie goeie rolbalvriend en het in die groeifase van die klub na ons uitgereik."
Die klub spog nou ook met 'n nuwe omheining wat alle lede laat veilig voel en die perseel beveilig teen betreders. Dis is deur Hessequa-munisipaliteit befonds. Die munisipaliteit het ook toegesien dat nuwe vullisdromme aan Jurischpark verskaf word en dat die dreinering van die afleistroom oopgemaak is. Die verouderde bome agter die klub, wat risiko's vir die klubgebou ingehou het is afgesaag en al die stompe verwyder.
"Die munisipaliteit ondersteun nie net die sportgemeenskap nie, maar sien ook om na die volhoubaarheid van die omgewing en poog om besoedeling te bekamp. Ons waardeer al hul insette om die sport in die gemeenskap te bevorder," het Nortjé gesê.
Die 20 spanne wat teenwoordig was, het bestaan uit vyf spanne van Riversdal, een van Heidelberg, vier van Witsand, twee van Swellendam, twee van Outeniqua, twee van Vista, twee van George en twee spanne van Stilbaai.
Uitslae
1. George: Prof Stadler, Tom Strydom en Mariana van Eeden;
2. Swellendam: Rita Browne, Schalk Pienaar en Graham McDonald;
3. Stilbaai: Piet Robbertse, M Robbertse en W Potgieter;
4. Riversdal: Hennie Steyn, Rina Gouws en Gerald Enright.
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Van links: Tom Strydom, rdl Grant Riddles, Veronica Enright, Jacobus 'Prof' Stadler, speaker Andrew Stroebel en prof Rossouw von Solms tydens die rolbaldag.
Vorige artikel: Balle rol in 'n kring
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'