Update
ALBERTINIA GHOLFNUUS - Na maande se voorbereiding het Hoërskool Albertinia Saterdag, 18 September hul jaarlikse gholfdag aangebied.
'n Totaal van 59 deelnemers van sover as Swellendam het ingeskryf en 'n heerlike sonskyndag geniet.
Die verrigtinge is amptelik deur die skoolhoof, Dennis Karelse geopen wat om 11:00 die eerste balletjie vanaf 'n vragmotor afgeslaan het.
Spelers het heerlike vetkoeke, pasteie, poeding en 'n braaivleisete geniet. Vleispakke, braaistelle en Canon-drukkers is net 'n paar van die pryse wat oorhandig is. Die eerste 40 deelnemers het geskenkpakkies ontvang.
Wenners
- Jacobus Michaels en Duane Deutschen met 46 punte;
- Jonathan Nomdo en Curlin Groenewald met 43 punte.
"Ons dank ons Hemelse Vader vir 'n pragtige en suksesvolle gholfdag. Sonder almal se bydrae sou dit nie moontlik gewees het nie. 'n Spesiale dank aan die gholfklub vir die gebruik van hul baan en aan elke speler wat saam gespeel het." Karelse het ook al hul borge, spelers en ondersteuners bedank, asook die gholfdagkomitee en onderwysers wat aan die hoof van die reëlings gestaan het.
"Ek het groot waardering vir julle harde werk. Ons sien reeds uit na volgende jaar se gholfdag en nooi almal nou reeds uit om die dag te kom geniet."
Die reëlingskomitee en personeel wat in beheer van die gholfdag was. Foto: Heinrich Fortuin
Vorige artikel: Gholfdag lok baie
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'