Update
HESSEQUA GHOLFNUUS - Die eindronde van drie gholfbyeenkomste van die Hessequa/SAGDB jeug gholfliga het onlangs op Heidelberg plaasgevind, met Albertinia wat as oorwinnaar uit die stryd getree het.
Die vorige twee wedstryde het op onderskeidelik Albertinia- en Riversdal-gholfklubs se bane plaasgevind.
Hierdie wedstryde is 'n uitvloeisel vanuit oefenklinieke wat in Februarie en Maart vanjaar plaasgevind het.
"Ons was deur Hessequa-munisipaliteit se sport- en jeug ontwikkelingsbeampte genader om te sien of ons nie iets meer volhoubaar kon doen in terme van gholf ontwikkeling in die streek nie," het Johan Erasmus, SAGDB (South African Golf Development Board)-streeksbestuurder, Suid-Kaap gesê.
Die besluit was dan om 'n ligakompetisie te hou. Elke span word deur drie of vier spelers verteenwoordig, met die beste drie brutotellings wat tot die spantotaal sal bydra. Elke wedstryd is oor nege putjies beslis en die span met die laagste brutotelling na afloop van die drie rondes is die wenner.
Eerste ronde
Die eerste wedstryd is op Albertinia-gholfbaan op 28 September gespeel. Die feit dat dié baan sandsetperke het, was beslis 'n uitdaging vir die Heidelberg- en Riversdalspelers. Die spantellings na afloop van die ronde was: 1. Riversdal 136 houe; 2. Albertinia 139 houe en 3. Heidelberg 152 houe.
Tweede ronde
Die wedstryd vind op Riversdal-gholfklub se bane op 12 Oktober plaas. Met die spanne kop aan kop op die telbord was dit 'n baie belangrike wedstryd. Na afloop van spel was Riversdal steeds voor met 276 houe, Albertinia het met 276 houe gevolg en Heidelberg met 292 houe.
Derde ronde
Die eindronde is op Heidelberg op 19 Oktober gespeel. Met Riversdal en Albertinia wat die dag gelyk op 276 punte elk begin het, was dit uithaal en wys vir die spanne. Heidelberg sou met 'n enorme poging op hul tuisbaan vorendag moes kom om een van die ander twee spanne in te haal.
Na afloop van die eindronde word Albertinia as die eerste Hessequa/SAGDB jeugliga 2021 kampioene gekroon. Alrique Julies van Riversdal is as die mees waardevolle speler na die drie rondes aangewys, omdat hy die laagste brutotelling na die drie rondes aangeteken het (126, 18 houe oor baansyfer).
Finale puntestand
- Albertinia met 406 houe;
- Riversdal met 409 houe en
- Heidelberg met 424 houe.
"Ons wil baie dankie sê vir die onderskeie gholfklubs se bereidwilligheid om ons te akkomodeer met die gebruik van hul bane. Sonder hulle hulp en ondersteuning sou ons nie ons program suksesvol kon aanbied nie. Dan wil ons vir Leighton Lewak, sport- en jeugontwikkelingsbeampte van Hessequa-munisipaliteit bedank vir sy dryf om van die projek 'n sukses te maak en in die dieselfde asem vir die munisipaliteit vir die finansiële inspuiting vir die projek," het Erasmus gesê.
"Ons hoop dat die "vennootskap" tussen ons twee partye van krag tot krag sal gaan en dat deur projekte soos die ons 'n blywende impak op die lewens van ons kinders in Hessequa sal hê."
VORIGE ARTIKEL: Jong gholfspelers maak hul merk
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'