Update Video
RIVERSDAL KRIEKTE NUUS - Die eerste kolwe in die Hessequa 6-a-side-kriekettoernooi het Sondag 2 Februarie in die Riverville-stadion geklap.
Presies 40 spanne, wat agt vrouespanne insluit, het vir die 24ste toernooi ingeskryf.
"Die meeste spelers is amateurs, sommer vriende wat bymekaarkom en vir die liefde van die spel speel," sê Marvin Kortjé, lid van die Riversdal-krieketklub en een van die skeidsregters vir die toernooi.
Hy meen die toernooi bied spelers met potensiaal in die hele streek 'n geleentheid om na vore te kom en hul talent te wys. "Baie van hulle droom dalk om eendag as 'n AB de Villiers vir die Proteas aan te tree," sê hy.
"Baie van die jong seuns wat op straat krieket speel, droom ook daarvan om eendag hier op Riverville vir die plaaslike krieketspan te speel," meen die hoofskeidsregter en tegniese koördineerder van die toernooi, Hennie Pieterse.
Kyk 'n video hieronder:
Mochelle May, lid van Riversdal se vrouekrieketspan en spanbestuurder van die SWD o.19-span is lid van die Overcomers-span wat ook ingeskryf het. Sy tree ook as een van die toernooi se skeidsregters op.
Sy is baie opgewonde oor die toekoms van vrouekrieket.
"Die SWD en die nasionale krieketliggaam fokus tans op die bewusmaking van vroue se rol in sport," sê sy.
Sy meen die minikrieket-inisiatief vir laerskoolkinders identifiseer talent vroeg en help om spelers te ontwikkel. "Die SWD-strukture help baie met die ontwikkeling van dié sport."
Sy het self as jong kind saam met die buurt se seuns in die straat begin krieket speel, vertel die Afrikaans-onderwyseres by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr.
"Baie vroue het sporttalent en hulle moet na vore kom om hul talent uit te leef. Hulle moet net toegewyd betrokke raak en hulle sal goed ondersteun word. Ons het nuwe, jong spelers nodig want die ouer spelers tree uit en ons wil hê die sport moet aanhou ontwikkel."
Die toernooi duur tot 1 Maart. Wedstryde vind weeksaande om 18:00 en Sondae om 14:00 plaas.
Marvin Kortjé
Lees 'n vorige artikel: Eerste 6-a-side-kolwe klap
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'