Update
HEIDELBERG KRIEKET NUUS - United-krieketklub het Sondag 10 Februarie hul laaste SWDK Hessequa-stroom promosieligawedstryd vir Albertinia verspot maklik met 44 lopies verslaan.
Met dié oorwinning eindig hulle bo in hul stroom en speel Saterdag 16 Februarie tuis teen Mayflower van Groot-Brakrivier in 'n kwarteindstryd.
Die tuisspan het die loot gewen en besluit om te kolf. Dit het voorgekom asof dit die verkeerde besluit was toe die tuisspan na 7.5 beurte op 16/5 gestruikel en later op 38/6 na 10 beurte kniediep in die moeilikheid was. Die vrees dat hulle nie eers 50 lopies sou haal nie, is deur Jaques Thyse (kaptein) uit die weg geruim met 'n stewige 31 lopies vanaf net 21 balle (3x4, 2x6). Slegs Elrick Pretorius met 10 vanaf 8 balle (1x4, 1x6), Corbin Swartbooi met 10 vanaf 6 balle (2x4) en Shirgené Swartbooi, ook met 10 vanaf 19 balle (1x4) het hul kaptein gehelp om die lopies tot 89 almal uit na 19.1 beurte op die telbord te plaas.
Vir die besoekers het Deon London met 4/30 na 7 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Wayne Coakley met 3/26 met 2 leeg na 6 beurte, Feroz Khan met 2/16 na 2.1 beurte en Wilhelm Sollmans met 1/16 na 4 beurte ondersteun.
Albertinia moes net 90 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar het nie met die tuisspan se venynige boul- en veldwerk rekening gehou nie. Almal is vir 'n skamele 45 lopies na 12.5 beurte uitgeboender. Nie een van hul kolwers kon dubbelsyfers haal nie.
Vir United het Pretorius met die bal verwoesting gesaai en 5/8 met 1 leeg na net 4.1 beurte laat kantel. Hy is goed deur Thyse met 3/8 met 1 leeg na 4 beurte bygestaan, terwyl Andrew Pieters met 1/10 na 1.5 beurte en Nathaniel Lodewyk met 1/13 na 2 beurte die ander paaltjies platgetrek het. Pretorius is as speler van die wedstryd aangewys.
Lees 'n vorige artikel hier: United deur na kwarteind
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'