Update
NASIONALE NUUS - Die droogte is op Woensdag 4 Maart tot 'n nasionale ramp verklaar.
Die voortslepende droogte wat talle provinsies in die land teister het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, tot die stap genoop.
Ivan Meyer, Wes-Kaap minister van landbou, het die stap verwelkom.
"Dit skep die geleentheid vir die provinsiale regering om nog geld te bekom om ons boere in die droogtegeteisterde gebiede te ondersteun." Onlangse opnames het getoon dat die noordelike deel van die Matzikama-streek langs die Weskus, die gebiede noord en oos van die Witzenbergstreek in die Kaapse Wynlande, asook die Sentraal- en Klein-Karoo steeds baie droog of selfs krities droog is. Eweneens is die Cederberg-gebied van die Weskus, asook die Hessequa- en Mosselbaai-gebiede van die Tuinroete- en die Overberg-distrik droog tot baie droog.
Volgens Meyer het sowat 1 730 boere gedurende November en Desember verlede jaar voer ontvang wat met die R50 miljoen wat die Wes-Kaap regering beskikbaar gestel het, aangekoop is.
"Ons het die geld beskikbaar gestel omdat ons glo landbou is die lewensaar van die landelike ekonomie. Die verklaring van die droogte as nasionale ramp sal ons in staat stel om ons boere verder te ondersteun en sodoende werksgeleenthede en die landbou-ekonomie te beskerm." Agri SA het ook die besluit verwelkom, maar voeg by dat gebiede in provinsies waar die droogte reeds die afgelope vyf, ses jaar duur, voorkeur moet geniet. Die organisasie sê in 'n verklaring: "Die geleentheid ten opsigte van herprioritisering van onaangewende fondse binne die verskeie departemente voor die einde van die finansiële jaar behoort deeglik benut te word vir finansiële steun ten opsigte van die rampverklaring."
IN SHORT:
Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister of Cooperative Governance and Traditional Affairs, on 4 March declared the drought a national disaster. This step was welcomed by Western Cape agriculture minister Ivan Meyer who said it created an opportunity for the provincial government to obtain more money for the support of farmers in drought-stricken areas.
Vorige artikel: Droogte tot nasionale ramp verklaar
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'