Gallery Update Video
WITSAND NUUS EN VIDEO - 'n Inwoner van Witsand het die afgelope naweek bykans 40 km in die Breërivier vanaf Malgas tot by Witsand geswem.
Wihan Wegewarth (42), pa van 'n vierjarige seuntjie, het die tog aangepak met die doel om geld in te samel om 'n verwaarloosde speelparkie in die kusdorp reg te ruk.
Hy het Vrydag 5 Julie omstreeks 07:00 by die pont by Malgas weggespring. Martin Fourie, 'n goeie vriend en bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Witsand, het hom vergesel in 'n klein opblaasboot. Die ondersteuningspan onder leiding van Thys Carstens het in sy groter boot Swallow 3 vanaf die sogenaamde Boat House gevolg. Fourie, Carstens, sy vrou Sue-Ann en Cheryl Beukes is almal vlak 3-eerste responders en NSRI-vrywilligers.
"Die eerste ent het goed gegaan, maar so 15 km vanaf Malgas was die strome en veral maalkolke baie sterk," vertel Wegewarth. "Dit was soos om in 'n muur vas te swem en elke keer moes ek van voor af my ritme vind."
Die laaste vyf kilometer voor die eindpunt was die ergste. "Ek het baie kwaai krampe in my regterbeen gekry en die laaste ent was regtig moeilik." Verder het hy net 'n paar skaafplekke opgedoen, want 'n duikpak en paddavoete is nie die gemaklikste uitrusting om twee dae in deur te bring nie.
Fourie het hom elke uur of wat gestop sodat hy iets kan drink of eet. "Die grootste probleem is hipotermie en dehidrasie," verduidelik hy.
Hipotermie was onder die omstandighede 'n wesenlike probleem, want die water was gemiddeld 12,5°C, terwyl die minimum lugtemperatuur Vrydag 11° en maksimum 15° was. Saterdag was nog kouer, met 'n minimum van 10° en 'n maksimum van 14°.
Vrydag het hy 7 uur en 55 minute geswem en 'n totaal van 26,69 km afgelê voor Carstens hom uit die water gehelp het. Hy het by die huis gaan rus en Saterdag 6 Julie weer om 07:00 weggetrek en 10,94 km in 2 uur en 34 minute afgelê.
Hy was dus altesaam 10 uur en 29 minute in die water en het van begin tot einde 37,62 km geswem - die eerste keer wat iemand so iets op die Breërivier aangedurf het.
Oral langs die rivier en veral by die eindpunt by die NSRI-stasie op Witsand, is die held aangemoedig. "My vrou Jana en seuntjie Tommy het my ook 'n ruk lank op die groot boot vergesel," vertel hy.
Teen Sondagaand het die span reeds sowat R65 000 se beloofde borgskappe ontvang. Dit sal vir die hervestiging van die speelpark onder leiding van Elize Garlick en Wynand Barrie aangewend word.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'