Update
HEIDELBERG NUUS - Die bestuurder van 'n vragmotor, Alton Vrolik (24) van die Oos-Kaap is Vrydagoggend 23 November noodlottig beseer toe die swaarvoertuig die pad verlaat en omgeslaan het.
Die voorval het ongeveer 03:30 sowat 20 km buite Heidelberg plaasgevind.
Vrolik en 'n kollega, Anthony Kwashirai (41), was op pad om 'n vrag motorenjins na die Oos-Kaap te vervoer.
Vrolik het op die toneel aan sy wonde beswyk, terwyl Kwashirai met ernstige veelvuldige beserings per helikopter na die hospitaal in George geneem is. Verskeie polisie-, ambulans- en ander nooddienste was op die toneel. 'n Swaarvoertuighyskraan moes uit Kaapstad ontbied word en die reddingswerkers het vir nagenoeg vyf ure gesukkel om die oorledene en sy kollega te bevry.
Vrolik laat sy pa, ma, drie broers en een suster agter.
Geen begrafnisreëlings was teen spertyd bekend nie.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder word 'n klag van strafbare manslag ondersoek.
Die oorledene, Alton Vrolik. Foto: Facebook
In 'n ander voorval, ongeveer dieselfde tyd sowat 5 km verder het nog 'n vragmotor die pad verlaat en omgeslaan.
Die bestuurder en sy kollega het ongedeerd daarvan afgekom. Hulle was met 'n vrag brood vanaf Kaapstad na Mosselbaai onderweg.
Die beseerde Anthony Kwashirai word in die lugambulans gelaai. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Werkers van die bakkery is besig om die brood na twee ander voertuie oor te laai.
Lees verwante artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'