Update
GOURITSMOND NUUS - 'n Natuurlike vleiland op die terrein van die voorgestelde perlemoenfabriek gaan deur 'n onafhanklike kenner ondersoek word.
Dit volg nadat komiteelede van die Gourits-sambreelliggaam die afgelope naweek die omgewing besigtig en besef het die vleiland word nie deur Aqunion en sy konsultant in die aansoekdokumente vir die fabriek vermeld nie.
Org Niewoudt, voorsitter van dié sambreelliggaam, wat vier gemeenskapsorganisasies verteenwoordig en die steun van die Gouriqua-bewarea het, sê die kuslyn word gekenmerk deur 'n reeks vleilande en fonteine naby die kus.
Die natuurlike vleigebiede begin sowat 2 km wes van Gouritsmond en strek wes tot in die Gourikwa-natuurreservaat.
Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het onlangs magtiging vir die voorgestelde perlemoenfabriek gegee. Nieuwoudt sê hierdie goedkeuring sal op hersiening geneem moet word omdat die bestaan van die vleiland (wetland) nie geopenbaar is nie. Dokumente oor die perlemoenfabriek verwys na 'n vlei op die buureiendom as 'n 'kunsmatige vleiland' (artificial wetland), terwyl dit in werklikheid deel van die natuurlike stelsel is. Die beskerming van vleilande word deur spesifieke wetgewing en internasionale konvensies vereis.
Die deskundige opname en ondersoek wat nou gedoen gaan word, is moontlik gemaak deur twee borge van die Gourits-sambreelliggaam. Die eerste wetenskaplike verslag word teen die einde van Maart verwag.
Die sambreelliggaam bestaan uit voorsitters en sekretarisse van die Gouritsrivier-belangeforum, Gouritsrivier-bewaringstrust, Bitouville-gemeenskapsvereniging en die Gouritsmond boot- en hengelassosiasie.
Lees vorige artikels hier:
- Vleiland kan perlemoenfabriek stuit
- Gourits appeleer teen perlemoenfabriek
- Perlemoenplaas-sage duur voort
- Perlemoenplaas steeds in spervuur
- Perlemoenplaas: 'n Moontlikheid vir Gourits
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'