Update
HEIDELBERG NUUS - Twee talentvolle leerders van die dorp wat op die rugbyveld uitblink, is vroeër in die jaar gekies om in Engeland en Italië te gaan toer.
Reevan February, gr. 12-leerder by Hoërskool Langenhoven en belowende heelagter, is in die Tony Stoops o.19-span ingesluit, terwyl Leyton Buys van die Hoër Landbouskool Oakdale in die Bluecrane o.15-span ingesluit is. Die toer vind gedurende September vir 10 dae plaas.
'n Dinee ten bate van albei was Sondag 28 Julie in Kairos Senior Sekondêr se saal gehou.
Cameron Dugmore, Wes-Kaap ANC parlementêre leier wat die projek ondersteun, was die gasspreker by dié uithanggeleentheid.
Volgens Dugmore kort hulle nog ongeveer R40 000 gesamentlik om die droomtoer te laat realiseer. Die finale bedrag moet teen Vrydag 1 Augustus inbetaal word, anders sal hulle nie die toer kan meemaak nie. Dugmore doen 'n dringende beroep op besighede en die gemeenskap om hul droom te bewaarheid. "Net 20 persone wat R2 000 elk skenk, sal Reevan en Leyton se droom bewaarheid," het hy benadruk.
Vir meer inligting kan Gavin February by 063 773 3817 of Carlet September by 084 699 1102 geskakel word.
Buys se bankbesonderhede is: LR Buys, ABSA, rekeningnommer 934 895 9348, bankkode 632005.
February se bankbesonderhede was teen saktyd nie bekend nie.
Van links: Reevan February, Cameron Dugmore en Leyton Buys tydens die dinee. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Jong spelers benodig hulp
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'