Update Video
STILBAAI NUUS & VIDEO - Dié kusdorp in Hessequa is Sondagaand 31 Maart aangewys as kykNET-Kwêla se Dorp van die Jaar in die Wes-Kaap.
Dié dorp het stof in die oë van Bredasdorp en Worcester geskop om na die finale ronde van die toekennings deur te dring.
Sodra al die wenners in die nege provinsies bekend gemaak is, sal die finale stemming per SMS vir die Nasionale Dorp van die Jaar plaasvind.
"Die toekenning se waarde lê in die bemagtiging van wat ons daar doen," het Grant Riddles, Hessequa-burgemeester, Maandagoggend gesê.
"Dit gaan meer mense na Stilbaai lok, want hulle wil in 'n skoon dorp woon waar nie geweld is nie en waar mense vir mekaar omgee."
Volgens hom kom 57% van Hessequa-munisipaliteit se inkomste van Stilbaai en Jongensfontein. "Daar is sowat 6 000 voltydse inwoners, maar die inkomste word bereken met inagneming van besoekersbesteding tydens die vakansieseisoene. Waar Stilbaai voorheen hoofsaaklik 'n vakansiedorp was, word dit nou ook 'n dorp waar talle mense permanent woon en daar is honderde nuwe intrekkers.
"Stilbaai se woonbuurte verdig, want daar word nou ook op kaal erwe blyplekke gebou. Die raad se finansiële bestuursplan fokus op meer ontwikkeling en ons is besig met opgradering van die rioolstelsel, herseël van paaie en sink van nog boorgate – ons het baie water gekry en dit lyk positief."
Volgens Riddles is hy baie trots daarop dat een van die dorpe in Hessequa dié erkenning gekry het. "Ek is 'n baie trotse burgemeester. Ek woon self daar en die mense is net anders – hulle gee om, het respek vir mekaar en is liefdevol.
"Ek wil vir almal wat reeds gestem het, dankie sê en almal nooi om in die finale ronde weer vir Stilbaai te stem sodat ons dorp as die Nasionale Dorp van die Jaar gekroon kan word."
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai is Hessequa se trots
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'