Update
RIVERSDAL NUUS - Rina Kapp was slegs vier jaar oud toe sy Edelweiss kon fluit. Vandag het sy reeds die vrystelling van twee CD's op haar kerfstok.
Hoewel haar ma baie mooi kon fluit het Rina se natuurlike talent en fluitvermoë vanself gekom.
Sy vertel: "Dit is nie iets wat iemand vir jou kan leer nie. Ek was nog 'n klein dogtertjie, my ma het my fliek toe geneem om The Sound of Music te kyk. Dit is vandaar wat ek Edelweiss gefluit het. Sy het my staaltjies vertel van hoe ek altyd geloop en fluit het. Ons het later saam liedjies gefluit waarvan ons Aandlied van die voëls in twee verskillende stemme gefluit het. Ek kry nou nog hoendervleis wanneer ek daaraan dink."
Vir haar was een van die grootste oomblikke in haar lewe toe sy Pie Jesu met die draai van die millennium in die kerk kon fluit.
"Dit was Oujaarsaand en ons was in die kerk. Kort voor middernag is al die ligte afgesit en daar het 'n doodse stilte geheers. Ek het die lied begin fluit, die atmosfeer op daardie oomblik is amper onbeskryflik."
Sy het aangeneem dat almal kan fluit, maar nadat hulle in 1996 na Riversdal verhuis het, het sy besef dat sy 'n unieke gawe het. Haar man het vir haar 'n artikel gewys van die "Fluitende predikantsvrou van Riversdal", Reiné de Beer. Rina het begin droom en geweet sy wil 'n CD vrystel.
Omdat sy nog nie op 'n verhoog voor mense opgetree het nie was haar 40ste verjaarsdag die perfekte geleentheid om die ys te breek.
Rina is nie net lief daarvoor om met mense te werk nie, sy is ook lief vir diere. Dit is vir haar ontspannend om saam met haar honde te gaan stap.
"Ek wou iets anders doen om my verjaarsdag te vier en het besluit om my verjaarsdagtema en vertoning 'Kimberley vere aangeleentheid' te noem. Dit was senutergend om vir die eerste maal amptelik voor mense op te tree."
'Kimberley vere aangeleentheid' het sy eie betekenis, en dit is dié dat sy sê jy op 40 vere voel, maar oor die Kimberley deel sal mense haar self moet vra.
Haar eerste CD is in 2005 vrygestel. Die CD is Droom genoem omdat dit absoluut 'n droom vir haar was om haar eie CD vry te stel.
Rina se deursettingsvermoë spreek vanself en kan sy spog met drie Comrades-medaljes. Haar vertroue in God en aanhouer wen siening het gehelp dat sy die beproewinge met die tweede CD vrystelling kon deurstaan.
"Alles het aan die begin in plek geval, maar daarna het ek baie beproewinge deurgegaan. Dit het my verhouding met die Here versterk. Ek het Hom al hoe meer vertrou en dit in Sy hande oorgelaat. Met baie dankbaarheid, gebede en harde werk is die CD eindelik vrygestel."
Sy wil fluit-fluit is in 2015 vrygestel. Sy het jare laas opgetree en sê dat dit belangrik is om fluit-fiks te wees. Op haar lysie van bedankings is die Here heel bo-aan. Sy bedank Hom vir haar talent en haar gesin vir hul ondersteuning.
Lees 'n vorige artikel: Fluit-fluit Rina se storie is lank nie uit
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'