Update
WITSAND NUUS - Inwoners en belangstellendes is Donderdagaand 23 Augustus tydens 'n openbare vergadering in die Witsand-gemeenskapsaal breedvoerig deur Hessequa-munisipaliteit ingelig oor wat die beoogde ontsoutingsaanleg by dié kusdorp behels.
Die aanleg sal die eerste in Suid-Afrika wees wat sonkrag sal gebruik om sy prosesse aan te dryf. Kundiges het noukeurig oorsigte gegee oor hoe dit gaan werk, watter impak dit op die omgewing, inwoners en besoekers aan die dorp mag hê en bowenal, hoe dit die inwoners en omgewing sal affekteer.
Onder die kundiges was Louise-Mari van Zyl, direkteur van die Cape Environmental Assessment Practitioners (Cape-EAP) wat reeds baie ondervinding met soortgelyke aanlegte het, dr. Barry Clark, direkteur by Anchor Environmental Consultants (AEC), wat aansienlike ervaring as wetenskaplike navorser, dosent en konsultant in tropiese-, subtropiese- en gematigde ekosisteme het, asook die Franse ontwerper van die produk, Patrice Boyer, siviele ingenieur en die projekbestuurder.
Inwoners het duidelik bedenkinge gehad oor die negatiewe impak wat die aanleg kan hê. Onder die teenwoordiges was beleggers, afgetredes, plaasboere, besigheidslui, jare lange inwoners en mense vir wie die rivierlewe 'n bron van inkomste is.
Jacques Becker het die eerste vraag gestel en wou weet wat sou gebeur as dit wys dat die stelsel skadelik is vir die natuur. Hierna het 'n reeks vrae gevolg wat op verskeie tegniese aspekte van die aanleg self, asook kommer oor die ligging daarvan so naby aan die broeiplekke van vis in die rivier, asook die impak wat die suig-en terugspuitaksie op die broeivelde mag hê. Die koste verbonde aan die instandhouding van die suiweringsmembrane van die produk was 'n bekommernis en die vraag was of kontrakte gesluit is wat die koste oor die langtermyn sal dek. Die vrees is klaarblyklik dat inwoners op die ou end met 'n hoë watertarief sou sit.
'n Oewerbewoner wat jare lank reeds water uit die rivier pomp, het daarop gewys dat geweldig baie modderwater in reënweer, wat in vakansietye gereeld voorkom, in die pype kom. Volgens hom het Witsand sover nog net 100 mm reën gekry en kan nog 400 mm reën voor en in Desember verwag word.
Hy het gewaarsku dat die suigpomp se motor maklik kan uitbrand as die filters verstop raak.
'n Lang gesprek het gevolg oor die konsentrasie chemikalieë wat in die water vrygestel word. Clark kon bedenkinge besweer oor die negatiewe impak wat die beoogde aanleg op die kuslyn en marienelewe sou kon hê. "Elke ses uur met getyverandering word alle grime water binne 10 kilometer van die mond af deur die gety weggevoer, terwyl die res wat hoër op in die rivier gestoot word, aansienlik gou deur die vars water verdun word. Insgelyk word alle effluent wat deur die pomp uitgestoot word, binne vyf meter van die uitlaat deur die water opgeneem en sal geen bedreiging verder inhou nie."
Hy het daarop gewys dat indien daar enige probleem in die mond ontstaan en die munisipaliteit dit nie na wense kan oplos nie, die ontsouting van water in Witsand summier gestaak moet word.
Lees vorige artikels:
- Vrae oor ontsoutingsaanleg beantwoord
- Deurbraak met sonpaneel ontsouting
- Ontsoutingsaanleg 'n eerste in SA
- Ontsoutingsaanleg dalk in vooruitsig
- Ontsoutingsaanleg vir Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'