Update
WITSAND NUUS - Hessequa-munisipaliteit staan op die drumpel om 'n reuse deurbraak met die installasie van die eerste sonpaneel aangedrewe ontsoutingsaanleg in Suid-Afrika te maak.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester het Maandagoggend die Wes-Kaapse minister van finansies, dr. Ivan Meyer, in Witsand ontvang vir 'n voorlegging van die projek wat volgens plan in Oktober vanjaar in werking sal kom, om op volle sterkte in November te wees, net betyds vir die groot toeloop na die strande.
Die voorlegging was deur Harold Basson, direkteur: tegniese dienste gedoen en ingelei deur Johan Jacobs, munisipale bestuurder. 'n Terreininspeksie van die presiese plek waar die aanleg gebou gaan word, het daarna gevolg. Bestaande infrastruktuur op die terrein maak die hele projek koste-effektief vir die munisipaliteit.
Prof. Erwin Schwella van die Universiteit Stellenbosch, asook die Universiteit van Tilsburg, in samewerking met die munisipaliteit is die groot dryfvere agter die projek. Die Franse Tesourie en Wes-Kaapse Droogteverligtingfonds dra mildelik by om die eerste innoverende groen tegnologie hier toe te pas.
Geen onkoste-las word voorsien vir plaaslike verskaffers van elektrisiteit nie. Die aanleg sal 100 kl vars water per dag aan Witsand voorsien, wat eintlik meer is as die normale verbruik van die dorp per dag.
Die aanleg hou verder die moontlikheid in om drinkwater buite die sonligure te voorsien, omdat dit aan die plaaslike elektriese grid gekoppel word. Die daaglikse produksie kan hierdeur tot 300 kl vermeerder word, wat maklik in die behoeftes van die dorp se waterverbruik gedurende spitstye in die seisoen, kan voorsien.
Harold Basson verduidelik waaroor alles gaan.
Die tegnologie, OSMOSUN®, is deur 'n Franse maatskappy, Mascara Renewable Water ontwikkel en na Suid-Afrika gebring deur hul Suid-Afrikaanse vennoot, TWS-Turnkey Water Solutions, as die wêreld se eerste omgekeerde osmose ontsoutingstegnologie, in samewerking met fotovoltaise-sonkragenergie wat sonder batterye werk.
Dit is spesifiek ontwerp om in die behoeftes van kusdorpies wat afhanklik is van brak- of boorgatwater te voorsien. Daar is reeds 'n paar aanlegte soos die een in verskillende wêrelddele waar gemeenskappe nou van bekostigbare varswater voorsien word en waar geen koolstofuitlatings is nie.
Dit sluit plekke in soos Abu Dhabi, Bora-Bora (Franse eiland), Rodrigues (Mauritius) en Mosambiek (ses aanlegte in Gaza-provinsie.)
Meyer het daarop gewys dat instandhouding van die aanleg van uiterste belang is, dat die munisipaliteit van die nuutste tegnologie moet gebruik om ten alle tye te verseker dat die aanleg optimaal funksioneer en dat die water gereeld kwaliteitstoetse moet ondergaan.
Van links is rdl. Jennifer Hartnick, Grant Riddles, Andrew Stroebe, dr. Ivan Meyer en Johannes Hartnick (onderburgemeester). Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'