HEIDELBERG NUUS - Kort na ‘n gesamentlike operasie op dwelmsmokkelaars in verskeie dorpe geloods was, het die C-skoflede van Heidelberg-polisie op ‘n dwelmhandelaar toegeslaan.
‘n 26-jarige boorling van Tanzanië is vroeg Saterdagoggend, 4 Desember in Kerkstraat in hegtenis geneem.
Die polisie het op R1 132 kontant, twee skale, ‘n selfoon en notaboek waar alle verkope wat op skuld gedoen word genotuleer is, beslag gelê. Die waarde van die dagga en tik is R600 en R100 onderskeidelik. Daar is ook op ‘n groot hoeveelheid plastieksakkies (bankies) beslag gelê.
Klagtes van handel in tik en dagga, asook om 'n beampte probeer omkoop is teen die beskuldigde aanhangig gemaak.
Die beskuldigde is Maandag, 6 Desember na ‘n vlugtige verskyning in die plaaslike landdroshof vrygelaat. Hy sal weer op ‘n latere datum in die hof verskyn nadat die nodige laboratoriumtoetse op die dwelms gedoen is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'