Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS - Die Culla Uys-natuurtuin aan die agterkant van die Skoolkop op die dorp het die laaste maande groot veranderinge ondergaan.
Die werk van natuurkundige Pat Esau en die Vriende van Culla Uys-natuurtuin begin al meer van die dorp se mense lok.
Skole en selfs kleuterskole besoek die tuin gereeld waar 'oom Pat' hulle op 'n kort staptog deur die tuin vergesel. Hy leer hulle ook die name van die plante, hoe om dit te versorg en hoe om gesond in die buitelug te lewe. Groter kinders en volwassenes word ook na die plek waar die seldsame Haworthia-veldplant teen die kliprantjie groei, geneem.
Saterdagoggend, 2 November, het die groep, Esau en ander gaste by die natuurtuin vergader waar rdl. Simon Odendaal die lint vir die amptelike opening van die natuurtuin geknip het. Vir die geleentheid het Esau ook vyf bostolbos-/bladdernut-boompies wat hy as skenking vir die tuin ontvang het, geplant. Skenkings kry hy sommer bakkiesvol, maar Esau erken hy sou daarvan hou om ook 'n werker met die skenking by te kry. Vele hande maak hul werk soveel ligter.
Die amptelike opening is deur 'n pretdraf waaraan sowat 40 drawwers deelgeneem het, voorafgegaan. Dit was nou ware familiepret wat deur Louise Kluyts gereël is, want sommige gesinne wat ingeskryf het, het baba op die arm die sowat 5 km kom aflê. Elke drawwer het 'n pragtige medalje ontvang wat deur kunstenaars van Suurbraak ontwerp en gemaak is.
Kyk 'n video hieronder:
Eerste en hand-aan-hand oor die wenstreep was die seuns JJ Pfaff en Jan-Paul du Toit. In die tweede plek was Raywin Links. Hannelie van Rensburg was die eerste meisie by die eindpunt.
Noudat die tuin amptelik oop is word baie stappers en fietsryers verwag. Die talle paadjies en gemerkte staproetes kronkel deur die tuin, gaan in die klofies af oor pragtige houtbruggies en klim teen steil houttrappies uit by reuse Afrika-maskers wat teen boomstamme leun verby. Onder by die rivier kan 'n stapper lafenis kry voor die terugtog aangepak word. Voorwaar net die plek waarheen 'n mens vir 'n uur of twee kan wegglip.
Rdl. Simon Odendaal het die lint geknip. Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Natuurtuin nou amptelik oop
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'