Update
RIVERSDAL NUUS - Nalatigheid maak jou 'n maklike teiken.
Dit bly elke lid van die gemeenskap se verantwoordelikheid om na sy/haar eie veiligheid om te sien.
Johan Crous van die Goukou-buurt- en plaaswag het die volgende wenke vir jou veiligheid.
Ligte
Behoorlike beligting is belangrik. Sorg dat jou werf goed belig is. Op plase is dit raadsaam om 'n lig wat 'n radius van ten minste 20-30 m belig, aan te bring. Die ligte moet weg van die huis af en nie op die huis skyn nie.
Bring bewegingsensitiewe ligte aan wat outomaties aanskakel wanneer iemand/iets voor die lig se ogie beweeg. Die lig wat skielik aanskakel is soms al afskrikmiddel genoeg, want g'n dief hou daarvan om gewaar te word nie.
Op plase is dit wenslik om noodkrag, soos 'n kragopwekker of sonenergiestelsel op bystand te hê wat aanskakel indien die elektrisiteit skielik in die middel van die nag afgaan.
Moet onder geen omstandighede in die donker buitentoe gaan om ondersoek te gaan instel nie.
Alarms
Baie huiseienaars sluit aan by 'n sekerheidsfirma wat 'n alarmstelsel aanbring. Statistiek het egter getoon dat slegs 21% van die inwoners die stelsel aktiveer wanneer hulle die huis verlaat of gaan slaap.
Sekerheidskameras
Kameras wat strategies aangebring is sodat dit enige verdagte aktiwiteit rondom of op jou perseel fotografeer en verbind is aan die moniteringstelsel van 'n vinnige reaksiediens, kan betyds waarsku as misdaad vermoed word.
Maak dig toe
Trek gordyne voor donker dig toe. Dit is bewys dat misdadigers van 15:00 af 'n geteikende huis dophou. Teen donker weet hulle presies hoeveel mense in die huis is, wat hul bewegings is en in watter vertrek hulle hul bevind.
Sluit toe
Die meeste inbrekers kry toegang deur 'n badkamervenster of kombuisdeur. Maak jou huis se vensters toe en sluit die buitedeure wanneer jy uitgaan of tuiskom.
'n Alarmstelsel wat nie geaktiveer word nie, het geen waarde nie. Foto's: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Nalatigheid kan jou lewe kos
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'