Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer, wat onlangs vir die tweede keer deur die AHi is as die beste sakekamer in die Wes-Kaap aangewys is, het gewys dat hulle die titel met reg verdien toe hulle hande met Die Brugmark se komitee gevat het.
Volgens Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer het hulle al in April 2020 met die mark se komitee, asook Hessequa-munisipaliteit, eienaar van die terrein begin onderhandel.
Die tyd het egter vinnig verbygeglip en die pandemie het ook sy tol geëis, tot so 'n mate dat die gesprekke eers in Maart vanjaar werklik vlamgevat het.
Daarna het dit vinnig gevorder en teen September het die raad toestemming verleen dat die terrein vir 'n aanvanklike vyf jaar verhuur sal word en 'n kontrak is geteken. Daar is onmiddellik met beplanning begin en na goedkeuring is afdakke opgerig, die terrein is verfraai en 'n mooi nuwe naambord het die lig gesien.
"Die sakekamer het besluit om betrokke te raak omdat ons doel tog is om entrepreneurs te ontwikkel en by te staan, asook om Stilbaai se ekonomie deurentyd tot groter hoogtes te vat," het Wall gesê.
Sy het vir PC Oosthuizen en sy komitee, en vir Hendrik Visser van Hessequa-munisipaliteit bedank dat hulle in die sakekamers se idees ingekoop het.
"Die droom is om Die Brugmark te posisioneer as die mees unieke en populêre familiemark in die Tuinroete. Daar is drie fokuspunte: infrastruktuur, bemarking en dan projekte en stalletjies," het Wall vertel. 'n Sandput vir die kinders is reeds gebou en elke Saterdag, asook deur die feesseisoen sal daar 'n springkasteel wees om die kinders besig te hou.
Wall het dit baie duidelik gemaak dat hulle nie hierdie projek blindelings aangepak het nie, maar dat hulle deeglike marknavorsing gedoen het voor enige besluite geneem is. Daar is alreeds 46 kontrakte geteken met stalletjiehouers vir Desember, waarvan 55% plaaslike inwoners van Stilbaai en Melkhoutfontein is. As gevolg van die fokus op familie en lekker kuier is besluit dat 'n groot persentasie van die stalletjies kosverwant moet wees.
Die langtermyndoelwit is 'n familiemark en die saamgestelde komitee gaan vroeg in 2022 nabetragting hou van die vakansieseisoen en dan die mark posisioneer as 'n weeklikse instelling, wat besoekers na die streek sal bevorder.
Oosthuizen het die sakekamer namens die stalletjiehouers bedank. Volgens hom is een van die groot voordele van die samewerking dat hulle baie kontakte het wat die sakekamer nie noodwendig het nie, maar ook andersom.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het die sakekamer en Die Brugmark met die inisiatief geluk gewens.
"Toe die aanvanklike gesprekke begin het, was ek maar skepties, maar die onderhandelinge en dit wat reeds vermag is, het my laat besef dat hierdie projek 'n suksesverhaal gaan wees."
Die Brugmark sal tot 8 Januarie elke dag oop wees vanaf 09:00 tot 17:00, behalwe Sondae en Kersdag.
Vorige artikel: Brugmark kry 'n nuwe baadjie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'