Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Stel jou 'n kleuremengelmoes van 'n huis met poppe, sagte speelgoed en allerhande snuisterye op elke oop spasie voor.
Net so vol poppe as wat haar huis is, is Sus Plaatjies se hart vol van liefde.
Haar woning op Melkhoutfontein is as 'n hawe en 'n tweede kans op die lewe vir kinders in nood bekend.
Benewens haar vier eie kinders en drie kleinkinders wat sy saam met haar man, Piet, grootgemaak het, het hulle oor 'n tydperk van ongeveer 29 jaar aan 19 pleegkinders 'n veilige tuiste gebied. Die jongste een wat op die oomblik in die huis is, is 'n driejarige seuntjie wat sedert die ouderdom van twee maande by hulle woon. Sy is op elkeen van haar pleegkinders trots en vertel graag hoe goed die volwassenes in hul beroepe vaar.
Die versamelgogga het Ant Sus, soos sy algemeen bekend staan, al vroeg gebyt.
Sy het altyd veldblomme in die huis gehad en die gedroogde blomme is nooit weggegooi nie. Toe hulle in 1986 van die plaas af dorp toe moes trek, het sy na plastiekblomme oorgeskakel. Met die geboorte van haar jongste kind moes die nuwe baba poppe kry en dié versameling het so stilweg saam met die blomme posgevat.
Daar is nie 'n bank of stoel in die leefarea sonder sagte speelgoed en poppe nie en nog meer hang van die dakbalke af. Tussenin pryk ruikers plastiek- en lapblomme, nagemaakte vlinders en enigiets anders wat Sus se oog vang. Sy vertel dat sy meeste van die poppe en speelgoed op kermisse gewen het. Ander was geskenke of is in ruil vir los werkies aan haar gegee. Op die vraag of die jongste enetjie die versamelstukke uitlos, antwoord sy laggend: "Hy het soveel mandjies vol speelgoed, hy weet nie eers van die ander nie."
Haar eie jongste dogter, Carina, woon steeds in haar ouerhuis en wanneer Sus eendag die tuig neerlê, sal sy die liefdestaak voortsit.
Lees 'n vorige artikel hier: Ewe veel liefde as poppe
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'