Update
GOURITSMOND NUUS - 'n 33-Jarige man van Bitouville, 'n buurt van die kusdorp is in verband met die moord op die bejaarde oud-dominee John Peter Barnard in hegtenis geneem.
Barnard se liggaam is Sondag 16 September omstreeks 14:00 in die kombuis van sy huis in Seesigweg gevind.
'n Vriendin by wie se restaurant hy elke dag geëet het, het onraad gemerk toe hy nie Sondag vir middagete opdaag nie. Sy het toegang tot die huis deur die oop kombuisdeur gekry en hom met sy kop in 'n plas bloed gevind.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, sê dit wil voorkom asof die 87-jarige Barnard met 'n stomp voorwerp teen die kop geslaan is. Die nadoodse ondersoek het getoon dat dié hoofbesering waarskynlik sy dood veroorsaak het. Barnard is blykbaar die laaste keer lewend gesien toe hy omstreeks 16:00 op Saterdag 14 September in sy tuin doenig was.
Die voorkoms van die verdagte kom ooreen met 'n beskrywing deur 'n persoon wat hom die vorige dag op Barnard se werf gesien het. Hy word van moord aangekla en het Woensdag 18 September in die Riversdal-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Lees vorige artikels:
Lees ook 'n verwante artikel: Geliefde inwoner het harte geraak
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'