GOURITSMOND NUUS - "Oom John was altyd vriendelik en liefdevol," vertel Danie Bester, wat die afgelope 30 jaar die 87-jarige oud-dominee, wat die afgelope naweek vermoor is, se buurman was.
Barnard sou op 19 Oktober 88 word. Hy het sedert Mei 2014, toe sy vrou Quinta (85) dood is, alleen gebly.
"Hy was vredeliewend en het altyd vir 'n geselsie tyd gemaak. Hy het 'n wonderlike sin vir humor en 'n sin vir regverdigheid gehad. Selfs op sy hoë ouderdom was hy bereid om te help."
Volgens Bester was hy ook ernstig oor rugby. "Hy het in 1948 aan Paarl Gimnasium gematrikuleer en het altyd op sy beskeie manier verduidelik dat dit hý was wat in sy laaste skooljaar tydens die interskole teen Boishaai (Hoër Seunskool Paarl) die wendrie gedruk het - dit was sy groot claim to fame wat sy rugbyloopbaan betref.
"Kortom, hy was 'n besondere mens. Ek sal hom mis - mense uit sy era is bitter skaars en mense van sy stoffasie nog skaarser."
Hanlie Venter, eienaar van Koffiestories Restaurant op die dorp, het ook 'n spesiale band met hom gehad. "Hy het elke middag by my restaurant geëet," vertel sy. "Ek vermoed hy het Vrydagmiddag jukskei gespeel en hulle het gewoonlik 'n vleisie by die baan gebraai. Hy was Saterdagmiddag hier. Toe hy Sondagmiddag nie opdaag nie, het my assistent my dadelik laat weet. Ek het die 800 m na sy huis toe gery. Die huis was oop en ek het op sy liggaam afgekom."
Sy vertel sy en Barnard en sy vier kinders het die afgelope drie jaar 'n hegte band gesmee. "Ek was sy Gourits-dogter en hy het nie die dorp verlaat sonder om my daarvan te sê nie. Ons was nie bloedfamilie nie, maar Gods-familie."
Ds. Pieter Franzsen (86) vertel hy het Barnard Vrydag 13 September gesien voor hy Montagu toe vertrek het. Hulle het in Oktober 1993 ontmoet toe hy hierheen verhuis het. "Ons was baie goeie vriende en het mekaar elke dag gesien. Ons het saam jukskei gespeel."
Volgens Franzsen het Barnard, wat in Rhodesië (vandag Zimbabwe) gebore is, 'n baie sterk persoonlikheid gehad. "Hy was 'n stil, rustige mens. Ons het 'n groot verjaarsdagpartytjie vir hom beplan."
Jorrie Jordaan van die Gouritsmond-buurtwag wat snags 'n oog oor die dorp se inwoners hou, sê die dorp is nie meer wat dit was nie. "Mense sluit nie hul deure nie. Ek sukkel al die afgelope sewe jaar om inwoners sover te kry om meer veiligheidsbewus te wees." Dit is vermoedelik hoe die verdagte, wat in verband met die moord in hegtenis geneem is, toegang tot die huis gekry het.
Barnard word oorleef deur sy kinders Tommy, Kobus, Rykie en Ronel. 'n Roudiens word om 11:00 Saterdag 21 September in die NG Kerk Gouritsmond vir hom gehou.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'