RIVERSDAL NUUS - 'n Man is in aanhouding en sy vriendin is in die hospitaal nadat hy na bewering haar blyplek in Panorama aan die brand gesteek het.
Mina Hendricks (65) is in die hospitaal opgeneem, voor sy na George-hospitaal oorgeplaas is, waar sy behandeling vir brandwonde ontvang. Sy is in 'n stabiele toestand, sê Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement van gesondheid.
Haar vriend, Simon Lukas (53) is in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof op 'n klag van brandstigting voorgekom.
Konst. Venia Daries, polisieskakelbeampte, sê die brand het tussen 20:00 Saterdag en 01:00 Sondag in die hout- en sinkstruktuur agter 'n baksteenhuis in Hartnickstraat uitgebreek.
"Ek en my vrou Anna, het wakker geword van iemand wat roep: 'Help! Help! Ek verbrand!'," het Johan le Grange, wat saam met sy vrou in die huis woon, Maandag gesê. "Toe ons die gordyne oopmaak, sien ons net die vlamme."
Anna het met die hulp van 'n vriend die deur oopgekry en Mina, haar suster, uit die brandende struktuur gered. "Sy het gesien Mina, wat net een been het, het erg verbrand. Sy is hospitaal toe geneem vir behandeling."
'n Gasbottel het ontplof en al haar aardse besittings het in vlamme opgegaan. Bure het die vuur met emmers water probeer blus tot die brandweer opgedaag het. Die huis se plastiek waterpype het gesmelt, maar die brand het nie na die huis versprei nie. "Gelukkig het die wind nie gewaai nie," het hy gesê.
Volgens hom woon Mina al ''n mooi tydjie' daar. "Die eienaar van die huis het die vriend verlede week verbied om hier te kom omdat hy moeilikheid maak. Mina het ook al 'n hofinterdik teen hom probeer kry."
Hy vertel die vriend het na bewering Saterdag vir bure gesê 'hy kom vannag die huis afbrand', en vir die bure langsaan glo 'vuurhoutjies gevra.'
Verkoolde houtpale, swartverbrande sinkplate en ’n hoop nat, verskroeide klere is al wat oor is na die verwoestende brand die hut in puin gelê het. Foto’s: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Beweerde brandstigting - struktuur in puin
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'