Update
STILBAAI NUUS - Emosies het hoog geloop toe die lewelose liggaam van die 17-jarige Stefan Marais om ongeveer 12:58 deur die polisieduikers aan wal gebring is.
Hy is om 12:30 deur Kobus Crous, eienaar van Mossel Bay Helicopters wat met die soektog gehelp het, vanuit sy helikopter opgemerk.
Crous het aan Nickey le Roux van die Mosselbaai Advertiser gesê dat Stefan se pa, Pine saam met hom in die helikopter was toe hulle sowat 300 meter van die monding iets in die rivier gewaar het.
“By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit die liggaam van jong Stefan was. Ek het die polisie-eenhede ontbied, wat sy liggaam herwin het,” het hy aan Le Roux gesê.
‘n Groot groep inwoners, vriende, kennisse en kinders het voor Lapskuit saamgetrek waar Stefan se liggaam in die Forensiese Patalogiese Dienste se voertuig gelaai is.
Voor almal uiteen gegaan het, is ‘n kring gevorm en ‘n gebed is gedoen om dankie te sê dat Stefan se liggaam gevind is, maar ook vir bystand en genade gevra vir sy ouers, familie, naasbestaandes en vriende.
Omstanders en reddingswerkers doen ‘n gebed nadat liggaam verwyder is.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, is ‘n geregtelike doodsondersoek geopen en sal ‘n lykskouing later die week gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.
Jaco Pretorius van die Forensiese Patalogiese Dienste vertrek met Stefan Marais se liggaam.
Lees vorige artikels:
- Vermiste seun nog nie opgespoor nie
- Stefan Marais is nog nie gevind nie
- Vermiste seun nog nie gevind
- Opvolg: Vermiste seun
- Stilbaai: Seun vermis
ARTIKEL & FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'