Update
RIVERSDAL NUUS - Die ruimhartigheid van Riversdal-inwoners - en dié van ’n engel uit Glentana - lees soos ’n sprokie. Dié goedheid hou net nie op nie en kosskenkings word met gereelde tussenpose gebring.
Die afgelope week is personeel by Suid-Kaap Forum weereens diep getref deur die oop beursies van mense wat bydraes vir Becca's-sopkombuis in die woonbuurt Kwanokuthula in Riversdal kom aflewer het.
Becca's-sopkombuis sal minstens tot einde Junie, dalk einde Julie, weer kan kook. Drie keer per week vir sowat 300 jong kindertjies en bejaardes van Kwanokuthula.
Hessequa-inwoners wat kosskenkings wil gee, kan dit by Suid-Kaap Forum se kantoor in Heidelbergweg 29 aflewer. Enigiets eetbaar is welkom, maar siende dat die winter voorlê sal enige bestanddele wat gebruik kan word om ’n lekker bakkie heilsame sop te maak verwelkom word.
Gevriesde hoendernekkies, om die sop meer krag te gee, sal ’n ekstra bonus wees. Sopbene ook. En daarby saam ’n sny brood om honger mae te vul.
Die 9 kg-gasbottel moet elke tweede week volgemaak word en dié kos so ’n raps oor die R300.
Kontantskenkings word dus ook verwelkom en Hugo Redelinghuys, redakteur van Suid-Kaap Forum, sal die gasaankope hanteer.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’