RIVERSDAL NUUS - In die ysige winteraande van Kwanokuthula, wanneer die koue deur sinkhuise en dun komberse sny, vestig letterlik honderde kinders en bejaardes hul hoop op een vrou - Rebecca Johnson.
Sy bedryf 'n sopkombuis, Becca's-sopkombuis, uit 'n klein kombuisie en probeer haar beste om drie keer per week ’n bord voedsame kos aan behoeftige mense voor te sit.
Maar nou, met die bittere winter wat nadersluip, raak Rebecca se kosvoorraad gevaarlik min - en saam daarmee die enigste bietjie troos wat sy kan bied.
Rebeca sê sy is vasberade om te verhoed dat iemand sonder 'n bord kos gaan slaap. "En 'n warm, heilsame bord sop met vars brood is nommerpas vir die winter wat voorlê."
Sy bedryf haar sopkombuis sonder enige staatsubsidie en is totaal afhanklik van die goedhartigheid van Riversdal se inwoners. Toe sy die geregistreerde sopkombuis sowat twee jaar gelede oopgemaak het, het inwoners hul harte en beursies oopgemaak en ruim geskenk. Maar nou het dié hulp feitlik opgedroog.
Tans is daar drie mans wat op 'n maandelikse basis kos en kontant skenk. "Meneer, ek is bitter dankbaar vir die bietjie hulp wat ek kry, maar die nood én uitdaging is groot. Ek kan net nie voorbly nie en dit breek my hart elke keer as 'n klein kindjie of bejaardes by die sopkombuis opdaag met 'n leë bord of plastiekbakkie en ek moet hulle wegwys.
"Meneer, jy kan in hul smekende oë sien dat die hongerpyne erg pla, maar as mens niks het om te gee nie wat kan jy doen? Ek kan tog nie bloed uit 'n klip tap nie. Ek is op moedverloor se vlakte en kry snags nagmerries as ek dink hoe die kleintjies met hul leë botterbakkies daar wegstap as daar nie kos is nie. En dan weet jy by hul ouerhuise is niks nie. Daai kind of bejaarde gaan weer honger slaap."
Met sowat 300 mense wat elke week op haar vertrou, raak die stryd om genoeg kos op die vuur te kry ’n al hoe groter uitdaging.
Haar grootste behoeftes sluit in droë sopmengsels soos ertjies en bone, hoendernekkies, sopbene, brood, botter en groente soos aartappels, wortels, uie en koolgewasse - alles wat maklik in 'n bord warm sop omskep kan word om honger mae te vul. Selfs blikkieskos, viskoppe of enige stukke vleis word dankbaar verwelkom. En só ook visolie, broodmeel, gevriesde hoender, patats, pasta of rys.
"Mense kan oorskietkos of kos wat hulle gevries het ook skenk. Ons is dankbaar vir elke skenking, want elke bietjie help, hoe gering ook al."
Benewens kos benodig Rebecca ook kontant om haar gasbottels vol te maak. 'n 9 kg-gasbottel kos sowat R300 en hou skaars twee weke. Sonder gas kan sy eenvoudig nie die potte aan die kook kry nie.
"Elke bydrae, hoe klein ook al, maak 'n wêreld se verskil," sê Rebecca. "Vir baie van hierdie kinders en ou mense is daardie bord sop hul enigste ete vir dae."
Kosskenkings kan by Suid-Kaap Forum by Hugo Redelinghuys, Ben Snyman of Sade Rossouw afgelewer word.
Met oop harte en 'n bietjie opoffering kan die gemeenskap help om koue hande en honger mae te verwarm - en hoop warm hou in die koue winter van Kwanokuthula.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’