Update
HESSEQUA NUUS - Heelwat plaaslike kunstenaars gaan by die eerste Makadas-straatmark vanjaar op 4 en 5 Desember op die dorpsplein in Riversdal optree.
Die Crusaders Kersfeeskoor, RUK, lyndansers en ook die digter, Bernard Fielies is slegs 'n paar van die kunstenaars wat teenwoordig gaan wees.
"Ons wil 'n spesiale beroep op sakelui en besighede doen om hul ure vir Vrydag te verleng, om sodoende deel van die Makadas-straatmark te vorm. Dit sal die gemeenskap ekstra inkopietyd bied en sakelui kan op die manier hul gemeenskapsbydrae openbaar," stel Gys Hough, een van die organiseerders voor.
Die verrigtinge sal Vrydagaand amptelik om 19:00 begin wanneer die speaker van die raad, Andrew Stroebel die verrigtinge sal open.
"Ons beplan om 'n gedeelte van Van den Bergstraat te gebruik, waar ons alle groot- en kleinhandelaars, asook entrepreneurs uitnooi om stalletjies te bespreek teen R100 per dag, of R150 vir die twee dae waar hulle plaaslike produkte eie aan Hesequa van die hand kan sit," verduidelik Hough.
'n Vredestafel sal in Van den Bergstraat opgestel word waar gaste 'n sitplek kan koop en die talent besigtig. Die vredestafelsitplekke beloop R5 per stoel. Daar sal eetstalletjies beskikbaar wees, maar gaste is welkom om hul eie verversings saam te bring om by die tafel te nuttig. Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles sal 'n spesiale boodskap by die vredestafel lewer.
Die geld wat met die byeenkoms geïn word, sal onderskeidelik aan Riversdal-kindersorg en Riversdal uitvoerende kunste geskenk word.
Plaaslike talent in die Hessequa-streek wat belangstel om by die straatmark op te tree en nog nie kontak met die organiseerders gemaak het nie, moet Hough (079 497 6637) so gou moontlik skakel om sodoende in die program ingedeel te word. Hy kan ook vir alle navrae en stalletjiebesprekings gekontak word.
Vorige artikel: Kom sing en dans saam
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'