Update
HESSEQUA NUUS - Klimaatsverandering, wat die weersomstandighede beïnvloed kan 'n uitwerking op die streek se kuslyn hê.
In die Tuinroete en Klein-Karoo het dit tot 'n ongekende droogte van byna vyf jaar wat mens en dier uitmergel gelei. Meer onlangs het dit ook tot hewige storms en oorstromings soos dié by George gelei, asook twee vernietigende orkane in KwaZulu-Natal se Middellande.
Na verwagting sal klimaatsverandering in Hessequa tot veranderende temperature, 'n laer reënval en 'n toename in die aantal en omvang van storms lei wat teen die kus met besondere hoë branders gepaard gaan.
Indien hierdie storms in dieselfde tyd as 'n springhoog gebeur, kan dit tot selfs hoër branders lei wat 'n beduidende impak op die landmassa tot gevolg sal hê.
As die styging in globale seevlak bygevoeg word, kan die impak op die Hessequakus katastrofies wees. Die gekombineerde impak is een van die grootste bedreigings vir infrastruktuur langs die kuslyn, aangesien die golwe se oploop soveel verder is. Een voorbeeld van die impak van 'n buitengewoon hoë gety is op die kuspad tussen Gouritsmond en Gourikwa, waar die see onlangs by ten minste ses plekke oorstroom het.
Die nasionale omgewingsbestuurswet se geïntegreerde kusbestuurwet (NEM: ICMA) verskaf 'n raamwerk vir die bestuur van die kuslyn ter wille van die bewaring en beskerming van die natuur en tot voordeel van die mense wat daar woon, werk of dit vir ontspanning benut.
Dié wet beskerm onder meer die gebied tussen die hoog- en laagwatermerk en die tussengetysone in die middel. Dit vorm deel van die littorale aktiewe sone wat gedefinieer kan word as die gebied wat weens natuurlike prosesse onstabiel en veranderlik is, insluitend duine, strande, sandbanke en ander materiaal soos sagte sand en spoelklippe met of sonder plantbedekking word ingesluit.
Natuurlike prosesse lei daartoe dat die sandstrande in al Hessequa se kusdorpe met verloop van tyd toespoel en weer oopspoel. Die strande van Witsand, Stilbaai, Jongensfontein en Gouritsmond spog almal met die gesogte internasionale blouvlagstatus. Dit is dus belangrik om hulle so toeganklik en fraai as moontlik te hou.
Al die kusdorpe ervaar kruipende sandduine wat oor strate en tot teen die huise waai. Mure wat opgerig is om die sand te keer, waai ook maar toe. Infrastruktuur op die strand, soos die lewensreddershuisie by Gouritsmond word ook deur die sand verswelg.
In die meeste dorpe word probeer om die los sand van die duine in lyn met goedgekeurde bestuursplanne deur middel van verskillende meganiese (nette) en natuurlike metodes (plantegroei) vas te pen, maar dit is net gedeeltelik suksesvol as gevolg van die dinamiese natuurlike stelsels en dis gewoonlik duur.
IN SHORT
Climate change may have a serious impact on the Hessequa coastline, especially when associated with high storm surges. The littoral zone is most sensitive as it is unstable as a result of natural processes.
Die kus langs die strand tussen Gouritsmond en Gourikwa-natuurreservaat het onlangs op verskeie plekke oorspoel toe die gety besonder hoog was. Foto's: Tisha Steyn
Lees 'n vorige berig: Klimaatsverandering kan kuslyn knou
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'