Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Gesin van Missionstraat het Saterdagnag 9 Februarie al hul besittings in 'n oogwink verloor toe 'n vuur hulle Wendy-huis tot op die grond afgebrand het.
Helen en Jonathan Shand en hul drie kinders, Jonadin (22), Jame-Marie (17) en Classady (13) woon al geruime tyd hier.
Die brand het blykbaar kort voor middernag ontstaan, maar dis onseker wat dit veroorsaak het.
Volgens Doreen Hendricks, Helen se suster, was Jame-Marie vroeër die aand by haar en het sy (Hendricks) haar huis toe vergesel. Terwyl sy in die huis was, het Jame-Marie aan haar gesê dat sy iemand by die venster gesien het. "Ek het onmiddellik na die venster geloop om te sien wie dit is, maar die persoon het vinnig padgegee. Dit was 'n jong persoon met 'n vaal top." Hendricks sê dat die honde aanhoudend geblaf het en hulle agter die persoon aangehardloop het. Sy kon egter nie uitmaak wie dit was nie.
Intussen het hulle na buite gestorm toe hulle ontdek dat die struktuur brand. Hulle kon slegs die televisie, 'n rusbank en matras buite toe dra. Die hele huis was binne sekondes onder vlamme en moes hulle na veiligheid vlug.
Die gesin moes hulpeloos toekyk hoe hul swaar verdiende besittings binne minute deur die vlamme vernietig word. 'n Ander struktuur langsaan het ook begin brand, maar dit kon betyds geblus word. Al die ruite aan die agterkant van die huis is deur die hitte beskadig.
Die inwoners moes die struktuur ontruim omdat die rook en water groot skade aangerig het. Hulle kon darem al hulle besittings na veiligheid neem. Die bure en ander omstanders moes keer dat die ander strukture nie ook vlamvat nie.
Die plaaslike brandweer, asook ambulans en polisielede was op die toneel om te probeer red wat hulle kon.
Shand het haar twee dogters beskermend teen haar vasgedruk terwyl hulle onbedaarlik gehuil het oor hul groot verlies.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, word 'n klag van brandstigting ondersoek.
Hy doen 'n dringende beroep op enigiemand wat die polisie van inligting kan voorsien wat die vermeende kwaaddoeners voor die hof sal bring.
'n Dringende beroep word op die gemeenskap gedoen vir enige hulp aan die familie. Shand kan by 065 135 4101 geskakel word.
Lees 'n vorige artikel hier: Gesin verloor alles in brand
Die struktuur was binne minute in puin gelê.
Dis al besittings wat gered kon word.
Jonadin Shand troos sy ma, Helen en suster Jame-Marie, terwyl Fredeline Fielies, 'n buurvrou, met 'n bottel water nader staan om die getraumatiseerde familie te ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'