HEIDELBERG NUUS - Helen en Jonathan Shand en hul drie kinders van Missionstraat in Heidelberg het Saterdagnag 9 Februarie feitlik al hul besittings in ’n brand verloor.
Die brand het blykbaar kort voor middernag ontstaan en hulle vermoed brandstigting.
Volgens Doreen Hendricks, Helen se suster, was Jame-Marie vroeër die aand by haar en het sy (Hendricks) haar huis toe vergesel. Terwyl sy in die huis was, het Jame-Marie aan haar gesê dat sy iemand by die venster gesien het.
“Ek het onmiddellik na die venster geloop om te sien wie dit is, maar die persoon het vinnig padgegee. Dit was ’n jong persoon met ’n vaal top.” Intussen het hulle na buite gestorm toe hulle ontdek dat die struktuur brand. Die hele huis was binne sekondes onder vlamme en moes hulle na veiligheid vlug.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, word ’n klag van brandstigting ondersoek. Hy doen ’n dringende beroep op enigiemand wat die polisie met enige inligting kan verskaf wat die vermeende kwaaddoeners voor die hof sal bring.
’n Dringende beroep word op die gemeenskap gedoen vir enige hulp aan die familie. Shand kan by 065 135 4101 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'