RIVERSDAL NUUS - Verdere getuieverklarings in die geregtelike nadoodse ondersoek na die verkragting en dood van Marika Jansen (12) op 1 Oktober 2005, is op 1 Augustus in die Riversdal-landdroshof voortgesit.
Haar liggaam is op 7 Oktober gevind. Staatsaanklaer Charlton Pretorius het getuie Hazel Heynse se verklaring vir die hofrekord voorgelees. Haar verklaring vertel dat sy, Jacobus (Pepe) September en 'n derde persoon in 2005 op 'n verlate perseel op Stilbaai gekuier het en dat sy bang was vir hom toe sy hoor hoe hy vertel van 'n meisie op Riversdal wat hy wou 'hê', maar nie kon kry nie.
Ao. Cedric Marx van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, vertel in sy verklaring hoe September se ma, Katrina, wie se verklaring op 18 Julie voorgelees is, op 1 Oktober klere en 'n paar skoon, gryserige tekkies wat haar seun na bewering aangehad het toe Marika vermis geraak het, aan hom uitgewys het.
Marx het later 'n tweede paar blou en wit tekkies vol modder en met bloedspatsels op die veters in 'n kas gevind.
September het erken dat daardie tekkies ook aan hom behoort. Die spoor van die vuil tekkies het ooreengestem met 'n tekkiespoor wat langs Marika se liggaam gekry is.
September het verduidelik die modder het op die tekkies beland toe hy op die dag van haar verdwyning in 'n rivier getrap het toe iemand hom na 'n onderonsie oor dagga gejaag het. Volgens hom het hy daarna glo direk met sy fiets huis toe gery.
Ondersoekbeampte ao. Boer van Rensburg het sy verklaring voorgelees waarin hy noem dat hy op 3 Oktober 2005 sleutels en 'n horlosie wat aan Marika behoort het, buite haar pa se huis opgetel het.
Daar was ook 'n fietsspoor in die modder langs 'n dam waarin September hom volgens 'n vorige getuie se verklaring gewas het. Dié spoor het ooreengekom met die van 'n pap fietsband wat tydens 'n besoek aan Katrina September se huis aan hom getoon is.
Hy het egter die band daar agtergelaat en Katrina ontken in 'n latere verklaring dat sy enigiets aan hom uitgewys het.
Nog ses verklarings moet aangehoor word. Die saak is uitgestel na Donderdag 8 Augustus. September bly in aanhouding.
Lees vorige artikels hier:
- 'Ma, hoe voel dit om vermoor te word?'
- Verdoemende getuienis in Marika saak
- Moordsaak na 14-jaar weer in die landdroshof
- Onopgeloste moordsaak na 14 jaar in hof
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'