Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Geregtelike nadoodse ondersoek wat deur die direkteur van openbare vervolging gelas is na die verkragting en moord van Marika Jansen (12) bykans 14 jaar gelede, het Donderdag 23 Mei in die landdroshof hier begin.
Marika Jansen was in gr. 6 en 'n kranige leerder by Kruisrivier Primêr.
Sy het op Saterdag 1 Oktober 2005 van die huis waar sy saam met haar pa en suster gewoon het, vermis geraak.
Haar naakte liggaam is op Vrydag 7 Oktober in 'n kloof etlike kilometer daarvandaan gevind.
Jacobus September (toe 24) is as verdagte in hegtenis geneem en hy het die Vrydagoggend voor die liggaam gevind is, op Mosselbaai in die hof verskyn. By gebrek aan voldoende bewyse wat hom met die misdaad verbind, is hy vrygelaat. Die saak is nooit opgelos nie.
September dien al baie jare vir 'n ander verkragtingsaak lewenslange gevangestraf in 'n hoë-sekerheidsgevangenis uit. "Die feit dat hy reeds agter slot en grendel is, het die proses om die Marika-saak opnuut te ondersoek, vertraag," verduidelik ondersoekbeampte ao. Boer van Rensburg.
Die voorsittende beampte, landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen, sal na aanhoor van al die verklarings wat tydens die ondersoek afgeneem is, 'n verslag aan die DOV voorlê, wat dan sal besluit of September aangekla en verhoor moet word.
Piet Jansen, Marika se pa en haar suster, Saraleen Baardman, het die verklarings wat hulle kort na haar dood afgelê het, vir die hofrekord voorgelees. Albei se verklarings het vertel wat daardie Saterdagmiddag gebeur het. Haar pa het onder meer vir September gesê dat hy van Marika af moet wegbly. In Baardman se verklaring vertel sy dat sy vroeër die dag vir September geklap het toe hy haar betas het.
Van Rensburg, wat die saak in 'n stadium oorgeneem het, het sy eie verklaring voorgelees, gevolg deur die lykskouingsverslag van die staatspatoloog, dr. Mariëtte Hurst. Volgens dié verslag het die liggaam, wat in 'n gevorderde stadium van ontbinding was, beserings getoon wat met verkragting verband hou, asook verskeie steekwonde en ander beserings aan die oorledene se nek.
Daarna het Van Rensburg die verklarings van nog 20 getuies voorgelees. Dit hou verband met September se bewegings op daardie dag, asook mededelings wat hy sedertdien aan medegevangenes in verskillende plekke van aanhouding gemaak het.
Jansen het voor die hofverrigtinge begin het, aan Suid-Kaap Forum gesê Marika was "'n lieflike kind wat altyd gelag het en almal was lief vir haar".
"Ek mis haar elke dag wat die Here vir my gee," het haar suster gesê. "Ek glo die Here sal die persoon straf wat dit aan haar gedoen het." Albei woon en werk geruime tyd al op die Kaapse Vlakte.
Die saak is tot 18 Julie vir verdere aanhoor van getuienis uitgestel. September is steeds in aanhouding.
Lees 'n vorige artikel hier: Onopgeloste moordsaak na 14 jaar in hof
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'