RIVERSDAL NUUS - "Vandag 'n jaar terug was die swartste dag van my lewe."
Kol. Hein Kilian, eggenoot van Heila Kilian wat op 16 April 2018 naby Stilbaai vermoor is, het dié boodskap op Dinsdag 16 April vir Suid-Kaap Forum gestuur.
Die vyf verdagtes wat aangekla word van die moord op die tenger Kilian op dié dag 'n jaar gelede, het Woensdag 24 April vlugtig in die landdroshof verskyn.
Kilian (63) is die aand doodgeskiet terwyl sy, haar suster Brenda Thomas, haar man David en 'n vriend, Shaun Vorster, op die Thomas-egpaar se kleinhoewe buite Stilbaai gebraai het.
Nkosiyethu John Nocuza (24), Msomi Nikani (24), Monwabisi Maki (22) en Xolisane Myoyi (28) en Sakhumzi Benya (29) word aangekla van moord en gewapende roof. Hulle het na bewering die groep uit die donker nag bestorm en Kilian is deur 'n koeël getref. Die ander drie is rondgepluk en gedwing om die kluis oop te sluit. Uiteindelik het Brenda ontvlug en gaan hulp soek.
Benya, wat in Julie verlede jaar in hegtenis geneem is, se aansoek om borgtog is toe al geweier. Na verwagting sal die staat ook die ander vier se borgtog teenstaan indien daar wel 'n borgtogaansoek gebring word. Karien van den Heever, wat namens die Regshulpraad vir al vyf verskyn, het tydens hul vorige verskyning op 28 Maart aangedui dat 'n borgtogaansoek laat vaar word.
Drie van die vyf verdagtes word naby Swellendam aangehou. Twee wat by tronke naby Kaapstad aangehou word, is deur swaargewapende lede van die teen-bendegeweld-eenheid na die hof begelei. Die twee lede in pantserdrag en gewapen met handwapens en skokgranate het binne die deur na die hofsaal stelling ingeneem terwyl die verdagtes in die beskuldigdebank gestaan het. Die publiek is nie in die hof toegelaat terwyl die vyf voorgekom het nie.
Landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen het die saak vir verdere ondersoek tot Maandag 3 Junie uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Stilbaai 5 weer vlugtig in hof
- Stilbaai 5 laat borgaansoek vaar
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'