Update
STILBAAI NUUS - Hoewel Suid-Afrikaners tot hul huise beperk is, gaan misdadigers nie noodwendig dié sentiment deel nie.
Pieter Lategan, buurtwagkoördineerder vir Stilbaai, Melkhoutfontein, Jongensfontein en omgewing sê 'n poging om voertuigwiele op Saterdagoggend, 28 Maart, te steel het die buurtwagte laat besef hulle sal hul modus operandi moet verander tot die inperking verby is.
So is die plan om die buurt vanuit lede se huise dop te hou, gebore.
Lategan sê: "Dit sou aanvanklik net aan die oostekant wees en die doel was om bewegings van voertuie en persone direk aan die polisie te rapporteer. Binne 30 minute was daar soveel ondersteuning dat die polisie gevra is om die plan aan al die buurtwagte van die omgewing deur te gee. Die reaksie was oral dieselfde en observasieprogramme is vir almal uitgewerk."
Elkeen wat deelneem doen vir een uur lank observasie en die gebruik van flitsligte om in die bure se erwe en strate te skyn word aangemoedig. Lategan versoek inwoners ook om hul ligte binne en buite aan te skakel as hulle in die nag wakker word om te kyk of alles nog veilig is.
Enigiemand, selfs al is jy nie 'n buurtwaglid nie, of jy enkellopend of bejaard is kan nou help om die dorp se inwoners te beskerm. "Ons kan die kriminele net soos die virus uit ons dorp hou!" aldus Lategan.
Vorige artikel: Loer wat daar roer
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'