Update
STILBAAI NUUS - 'n Titseltjie ingevoerde talent in die beproefde resep van plaaslike kunstenaars en toneelspelers is nét die ding om van 2019 se Passiespel 'n onvergeetlike ervaring te maak.
Die jong bas, Corniël Calitz van Potchefstroom se oë lewe wanneer hy vertel hoe hy die opregte entoesiasme van almal in die produksie aanvoel en daarby aansluiting vind.
"Wanneer deelnemers se hart in dit is wat hul op die planke bring, ontstaan 'n dinamiek wat almal intrek en aanspoor om hul beste te lewer," sê hy.
Calitz is besig met sy meestersgraad in kommunikasie aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom-kampus, maar hy loop al 'n lang pad met sang en musiek. As predikantseun moes hy gereeld in die gemeente optree, maar hy reken hy het nie juis besondere talent op 'n jong ouderdom getoon nie. Dis eers op 16, nadat sy stem gebreek en die baskwaliteit daarvan duidelik geword het, dat hy tot sy reg begin kom het.
Hy het sanglesse geneem en in skoolproduksies opgetree. Na matriek het hy ingeskryf vir B.Mus by Pukke. Formele musiekstudies was nie heeltemal in sy kraal nie en hy het ná 'n jaar na kommunikasie oorgeskakel. Sy liefde vir musiek bly egter deel van die prentjie, met 'n meestersverhandeling in die beplanning wat die rol van verhoudings in die musiekbedryf wil ondersoek.
Die Calitz-gesin is ou bekendes vir die musiekdirekteur van die Passiespel, Elize Pienaar, wat hom genooi het om deel te neem aan die produksie.
Hy het ook einde Maart op uitnodiging van die Stilbaai-musiekvereniging sy eerste solokonsert voor 'n gehoor gedoen, wat baie gunstig ontvang is.
Calitz het al sy hand aan digkuns en kortverhale skryf gewaag, maar sang bly sy eerste liefde. Hy reken sang se aantrekkingskrag lê daarin dat dit so 'n persoonlike instrument is wat die sanger se persoonlikheid in die interpretasie van die musiek reflekteer.
Behalwe klassieke sang is hy ook lief vir musiekteater, jazz, asook fliek- en rekenaarspeletjietemas. Hy is gefassineer deur die impak wat musiek op 'n storie kan hê.
Wanneer hy na afloop van die Passiespel terugkeer huis toe, wag daar heelwat werk aan komende produksies, soos Rigoletto vir Salon Musiek in Pretoria en ook 'n klavierreduksie van La Bohéme. Hy sing ook in 'n paar kore in Potchefstroom wat konsentreer op oratoriowerk. Maar die warmte en omgee wat hy op Stilbaai ervaar, het hom oortuig dat hy beslis weer sal kom kuier.
Lees 'n vorige artikel hier: Besoekende sanger 'n aanwins.
'Ons bring jou die nuutste, Stilbaai, Hessequa nuus'