RIVERSDAL NUUS - Johan Victor, bekroonde verslaggewer van Suid-Kaap Forum, het Woensdagaand, 3 Desember, in die kollig gestaan tydens die Hessequa-sportraad se 2025 toekenningsgeleentheid, wat in die Riversdal-burgersentrum aangebied is.
Victor se toekenning is 'n erkenning van sy toegewyde joernalistieke werk in die Hessequa-gebied, waar hy gereeld uitblink met akkurate beriggewing, sterk gemeenskapsbetrokkenheid en 'n besondere vermoë om sportnuus lewendig en toe-ganklik aan lesers te bring.
Die inisiatief om aan uitsonderlike atlete, administrateurs en afrigters erkenning te gee, is een van die prioriteite van die Hessequa-sportraad.
Hulde aan uitblinkers in sport
Patric Witbooi, voorsitter, sê dat hierdie 'n geleentheid is waar met trots en dankbaar-heid hulde gebring word aan die uitblinkers in die sportgemeenskap.
Hy sê dat sport meer is as net 'n kompetisie - dit is 'n kragtige instrument vir gemeen-skapsbou, karaktervorming en hoop.
Jean Neethling, distrikshoof van die departement kultuursake en sport, sê dat dit baie belangrik is om sportprestasies uit te wys.
Dit motiveer sportmense en die Tuinroete lewer dikwels groot kampioene op.
As voorbeeld gebruik hy die toutrekspan van Oakdale wat wêreldkampioene is.
Dit verg dissipline en harde werk. Dikwels vyfuur in die oggend opstaan om te oefen.
Neethling wens Hessequa-sportraad ook geluk, want hulle is een van die twee topsportrade in die Tuinroete.
Gerald Boezak, onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, sê dat dit vir hom 'n eer en voorreg is om by die toekenningsgeleentheid te wees.
Hy besef wat sportmense alles opoffer om suksesvol te wees.
Dit verg harde werk en toewyding en daarom is dit vir hom 'n voorreg om hierdie toekennings te kan maak.
Boezak bedank ook die skoolhoofde en afrigters vir die harde werk wat hulle insit om prestasies te verseker.
Hy sê dat sport mense verenig en byme-kaarbring en bedank die sportraad vir wat hulle in 2025 op alle vlakke vermag het.
Van die toekennings was:
Administrateur van die jaar:
Seymour Heunis (Heidelberg RVK)
Senior sportman van die jaar - Marquit
September (SWD senior rugbyspan)
Senior sportvrou van die jaar - Sasha-Lee Amsterdam (agt bal snoekerwêreldkampioen)
Hoërskole sportman van die jaar - Emiliano Adams (atletiek)
Hoërskole sportvrou van die jaar - Ashlin Manho (rugby)
Laerskole sportman van die jaar - Eugene Saayman (atletiek)
Laerskole sportvrou van die jaar - Ciara Riddles (skaak)
Persone met gestremdhede - Anna Pietersen (Seagulls RVK)
Afrigter van die jaar - Fernell Pretorius (Heidelberg RVK)
Joernalis van die jaar - Johan Victor (Suid-Kaap Forum)
Senior span van die jaar - Riversdal Blues B-span
Hoërskole span van die jaar - Oakdale 560 kg-toutrekspan
Laerskole span van die jaar (seuns) - Molenrivier-toutrekspan
Laerskole span van die jaar (dogters) - Volschenk o. 12-netbalspan
Lewenslange toekenning - Pieter Herling (Riversdal Blues RVK)
Nasorgprogram vir sport en ontspanning - Bazil Abselon (atletiek)
Daar is ook verskeie spesiale en ereroltoekennings gemaak om 'n uiters suksesvolle aand af te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’