STILBAAI NUUS - 'n Anonieme weldoener met wortels in Riversdal en Stilbaai het 110 pragtige, veelkleurige "Portchie" sakke aan die inwoners van Huis Stilbaai geskenk.
Hulle het die sakke Donderdagoggend, 4 Desember, aan Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai, oorhandig.
Portchie is 'n bekende Suid-Afrikaanse skilder wat in 1992 begin skilder het en sy werk wissel tussen impressionisties en ekspressionisties. Hy hou van helder, warm en gelukkige kleure en om hierdie rede het die weldoenergesin sakke gekies met sy werk op.
Hulle sê dat heelwat van die inwoners van Huis Stilbaai se kinders woon in die buiteland en daar is ook van hulle met geen kind of kraai nie en hopelik sal hierdie "sakkie vir 'n leeftyd" hulle gemoed lig en opvrolik.
Daar is ook 'n klomp lekkers in elke sakkie vir 'n bietjie bederf, veral na 'n middagslapie.
Karlien sê dat sulke omgee mense, wat gee sonder dat hulle gevra word, haar taak by Huis Stilbaai soveel makliker maak en dit maak beslis 'n verskil in die lewens van die inwoners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’