STILBAAI NUUS - Tuinroete-distriksmunisipaliteit se brandweer is Saterdagmiddag ontbied na 'n veldbrand by Blombos naby Stilbaai.
Op daardie stadium was Hessequa-munisipaliteit se brandweer sowel as plaaseienaars reeds op die toneel om die brand onder beheer te kry.
Lugsteun is ook ontplooi en die brand het nie verder versprei nie. Brandbestryders het deur die nag seker gemaak dat die brand nie weer opvlam nie. Sondag het hulle weer 'n gedeelte aan die noordekant natgemaak om te verseker dat die brand geblus bly.
Danksy die rolspelers se vinnige en doeltreffende optrede is daardie brand volkome geblus.
Mense moet besef dat die omgewing uiters droog is en dat die veld maklik kan brand. Maak seker dat jy nie stompies by jou motorvenster uitgooi nie en wees uiters versigtig met oop vure.
Indien jy 'n veldbrand opmerk moet jy dit onmiddellik aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se noodsentrum by 044 805 5071 rapporteer of 'n WhatsApp stuur na 081 709 5193.