RIVERSDAL NUUS - ’n Bitter burestryd het die afgelope maand op ’n kleinhoewe-netwerk buite Riversdal ontvlam nadat drie veghonde (pitt bulls) doodgeskiet is en die eienaar en ’n buurman mekaar nou openlik daarvan beskuldig dat hulle onreg aangedoen is.
Volgens Bronwyn Vermeulen, eienaar van die drie honde - Sheba, Olive en Oakley - het die hele voorval begin toe tuindienste glo die hek oopgelos het nadat hulle klaar gewerk het.
Die honde het weggeraak, en Vermeulen en haar man Corné het onmiddellik ’n soektog van stapel gestuur, maar tevergeefs.
“Later het ek gehoor dat my buurman, Piet Geldenhuys, die honde geskiet én begrawe het,” sê ’n sigbaar ontstelde Vermeulen.
“Hy het geweier om die karkasse aan my terug te gee.
Ek moes letterlik verdere stappe neem om die honde terug te kry nadat hy hulle glo vir ’n tweede keer by die treinspoor gaan begrawe het.”
Vermeulen, wat haar honde as “my kinders” beskryf, sê sy het reeds verskeie instansies genader - onder meer ’n diereregte-aktivis - om geregtigheid te kry.
Volgens haar het Geldenhuys erken dat die honde geen skade aangerig het nie.
“Geen skaap, geen tuin, geen eiendom is beskadig nie.
Ek verstaan nie hoekom hy hulle moes skiet nie,” sê sy.
Ander weergawe van die storie
Geldenhuys bied egter ’n heel ander weergawe.
Hy sê ’n buurman het hom op Donderdag 6 November gekontak om te kla oor drie rondloperhonde wat weer op die kleinhoewes rondhardloop.
“Ek het probeer om die eienaar via sosialemedia op te spoor, maar niemand het gereageer nie,” verduidelik hy.
“Daar was baie klagtes van bure oor die rondloperhonde. Uiteindelik het ek besluit om op te tree.”
Volgens hom het Vermeulen eers dae ná sy aanlyn soektog by hom opgedaag om navraag oor die honde te doen.
Hy beweer verder dat die honde al “baie kere” voorheen rondgeloop het en wys na ’n beëdigde verklaring van die eienaar van die eiendom wat aan Vermeulen verhuur word.
In dié verklaring, sê hy, word bevestig dat sy herhaaldelik gewaarsku is om die honde binne haar erf te hou.
Geldenhuys verwys ook na ’n artikel in ’n landboutydskrif waarin ’n soortgelyke voorval op die Weskus bespreek is, en waar dit volgens hom duidelik gemaak is dat rondloperdiere geen reg het om op ander se eiendom te wees nie.
Intussen is daar wel ’n klag van dieremishandeling by die Riversdal-polisie aanhangig gemaak.
Die polisie het teen druktyd nog geen terugvoer gegee oor die vordering of status van die klag nie.
Die saak het die gemeenskap verdeel en verdere ondersoeke word nou verwag terwyl beide partye hul saak handhaaf.
Sheba, die sewejarige ma van die twee jonger honde. Foto's verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’