HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie se werkerskorps is Maandag 8 Desember met vyf nuwe lede vermeerder. Dit, nadat vyf plaaslike passievolle jeugdiges hul opleiding by Bishop Lavis suksesvol voltooi het.
Die vyf aspirante misdaadvegters bestaande uit konstabels, Danville Esau, Thurswin February, Alexa Lotz, Liam Roberts en Tracey-Lee Smith, het almal hul skoolopleiding aan onderskeidelik, Hoërskool Heidelberg en Kairos Senior Sekondêr voltooi.
Die vyf is tydens die parade deur Mervyn Zana, waarnemende stasiebevelvoerder, aan die lede bekendgestel en amptelik verwelkom.
Volgens Zana sal die toevoeging 'n groot verskil maak aan hul dienslewering, maar ook genoem dat daar nog baie ruimte vir verbetering is aan die tekortkominge van verskeie bronne om hul taak na wense af te handel.
Al vyf het nie geskroom om hul vasberadenheid uit te spreek om hul bydrae te lewer om misdaad, veral onder die jeug, daadwerklik aan te spreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’