Update
STILBAAI Die Vovid-19-inperking het nie die plaaslike buurtwagte en subforum-plaaswag ondergekry nie.
Volgens hoofkoördineerder, Pieter Lategan, het hulle met observasiedienste tussen 00:00 tot 05:00 vanaf lede se persele voortgegaan.
Verdagte bewegings van mense of voertuie is dadelik aan die polisie deurgegee.
"Groot gebiede is dopgehou. Die hawegebied het bo en behalwe die lede op die observasierooster, ook vyf ander vanaf 20:00 tot 24:00 aan diens gehad."
Lategan sê inwoners het oor die algemeen die inperkingsmaatreëls gehoorsaam en geen belangrike voorvalle is aangemeld nie: "Die Platbos-woongebied was so stil dat wildsbokke tussen die wonings begin inbeweeg het en 'n bosbokooi is een oggend om 08:00 in Buitekantstaat opgemerk. Uile het ook weer hul verskyning gemaak."
Hy sê honde was aanvanklik op Melkhoutfontein 'n groot probleem: "Volgens die buurtwagkoördineerder het hulle in die dag geslaap en dan in die nag met hul sopraanstemme die grendelbeperkings oorskry! Na die honde stilgemaak is was dit rustig, behalwe vir enkele moedswilliges wat die beperkings oortree het."
Die oorspronklike manier waarop observasies gedoen is, het dit veral in Stilbaai-Oos ook vir enkellopende dames moontlik gemaak om deel te neem.
Die Jongensfonteiners het nie in spesifieke skofte gewerk nie, maar geesdriftig op eie inisiatief hul deel gedoen en dit was ook daar baie stil, sê Lategan.
Die plaaswag se WhatsApp-groepe waaraan meer as 360 boere deelneem, was volgens hom tot dusver baie nuttig om inligting vinnig en volledig te versamel en aan die polisie deur te gee. In een geval, waar mense wat vullissakke oopgeskeur het naby die Inverroche-afdraaipad opgemerk is, kon die plaaswag vinnig reageer om landelike inwoners te vra om ander vullishokke te gebruik. Toe 'n inbraak kort daarna by die restaurant op dié pad op die WhatsApp groep aangemeld is, het hul inligting die polisie gehelp om 'n verdagte vas te trek. Tieners wat in die aande op die plaaspaaie rondgeloop het is ook vinnig opgemerk en ekstra polisiepatrollies het rustigheid herstel.
Lategan sê inwoners met wie hy gesels het, voel buurtwagte het baie bygedra om misdaad in die gebied so laag te hou. Die observasies gaan voort en is uitgebrei om die toegelate oefentyd in die oggende in te sluit.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'