Update
STILBAAI NUUS - 'n Projek by Ouma Lena se Huis op Melkhoutfontein,wat aanvanklik daarop gemik was om 'n rehabilitasiesentrum vir jong kinders wat verslawingsprobleme het te help, is deur Covid-19 effens in die wiele gery - maar 'n tuinprojek het as gevolg daarvan gestalte aangeneem.
Volgens Jenny Olivier, die groot dryfveer agter feitlik alles by dié sentrum, word die projek in samewerking met Stilbaai-polisie gedoen.
Ander rolspelers is die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en vrywilligers. Die doel daaragter is werkskepping en om inwoners te bemagtig.
"Ons het reeds die begin van die jaar 'n voorlegging opgestel en na 'n paar organisasies gestuur, maar nog geen reaksie gekry nie. Toe besluit ons, goed, hier lê 'n stuk tuin braak en ons kan dit dalk bekostig om hier te begin," vertel Olivier.
Sersant Chrissie Lewaks van die plaaslike polisie het dieselfde probleem gehad met dieselfde jong mense wat met die rehabilitasiesentrum beoog was, daarom het hulle besluit om hul kragte saam te snoer.
"Hier is baie uitdagings in Melkhoutfontein," sê Lewaks. "Dit sluit in kinders wat in konflik met die polisie is, verskillende soorte misdaad, kriminele sowel as sosiale misdaad as gevolg van werkloosheid, vroeë skoolverlating, ongeletterdheid en 'n misdaadrekord. Die doel van die projek is ook om gemeenskapsdeelname te beteken. Elkeen se betrokkenheid is belangrik omdat verskillende mense verskillende vaardighede het."
Lewaks was in die dienskantoor by die polisiestasie toe 'n vreemde man daar instap en na iemand gevra wat by projekte betrokke is. "Hy het aan my gesê dat hy van 'n organisasie in Mosselbaai, bekend as PSA (Public Service Act) is en dat hulle bereid is om 'n skenking aan 'n verdienstelike projek te maak - wat hulle ook gedoen het en wat op 'n later stadium by die sentrum oorhandig was."
"Ons het mense wat op parool is en van hulle moet sekere ure gemeenskapsdiens doen. Een van die rolspelers, Phillip Fouché van 'n plaaslike kwekery het aangebied om vir hulle vaardighede te leer," verduidelik Lewaks.
"In baie gevalle voel hierdie mense minderwaardig, omdat hulle in die kriminele sisteem is en nie werk kry nie, met die gevolg dat hulle hul weer tot misdaad wend." Met hierdie program word hulle bemagtig om weer in 'n werk uitgeplaas te kan word, hulle voel hulle is weer menswaardig en hulle kan 'n goeie invloed op ander hê.
Olivier noem dat hulle terselfdertyd ook besig is om vrouens op te lei vir 'n skoonmaakdiens sodat hulle eindelik hul eie besigheid kan begin.
"Maar niks van hierdie sou moontlik wees sonder die hulp van al die betrokkenes nie, daarom kan ek nie nalaat nie om vir Beryl Prins, Francois Peerold wat deel is van 'n interkerklike groep mans, die GPF, plaaslike korrektiewe dienste, sers Chrissie Lewaks en Stilbaai-polisie, Phillip Fouché, Albert Cloete, alle donateurs - en almal wat nie by naam hier genoem is nie, te bedank."
Van links: Sersant Chrissie Lewaks, Elise Moses en Francois Peerold (vrywilligers), Beryl Prins en Jenny Olivier. Foto: Wilma Adamson
Vorige artikel: Projek om werkskepping te bevorder
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'