Update
ALBERTINIA NUUS - Vlak 3-waterbeperkingsmaatreëls is vanaf Maandag, 1 Maart vir Albertinia ingestel.
Die dorp se stoorkapasiteit vir water om die gemeenskap te bedien, bestaan uit drie reservoirs met 'n gesamentlike kapasiteit van 4 100 kiloliter.
Die normale verbruik per dag gedurende die jaar is tussen 600-700 kl, dit wil sê daar is ten minste 4.8 dae nood stoorkapasiteit.
"Albertinia se waterbronne bestaan hoofsaaklik uit boorgate en fonteine wat 'n gemiddelde 860 kl water per dag kan lewer. Die gebruik vir die afgelope maand is tussen 900-1000kl per dag. Dit is 'n aanduiding dat daar te min rouwater voorsien word om die huidige verbruik te kan akkommodeer. Die reservoirvlakke bly konstant laag, met die gevolg dat dit waterdrukprobleme in die gemeenskap teweeg bring," sê die munisipale woordvoerder, Didi Budricks.
Tydens die feesseisoen en warm somerdae is die watertafel baie laag en neem die lewering van boorgate en fonteine nog verder af. Die toename in waterverbruik word verder veroorsaak deur inwoners wat swembaddens vol maak, wat baie druk op die watertoevoer plaas.
Vlak 3-beperkings
- Tuine mag net een keer per week tussen 16:00 en 18:00 natgemaak word. Gelyke getal straatnommers op Dinsdae en ongelykes op Donderdae.
- Tuinslange mag slegs gebruik word indien onder toesig. Emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels vir die natmaak van tuine mag gebruik word op voorwaarde dat dit binne die toegelate tydgleuf gebeur.
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied, insluitend dakoppervlaktes en mure van wonings.
- Die was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van 'n emmer gedoen word.
- Indien ander bronne soos reënwatertenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word.
- Vergunnings sal oorweeg word vir byvoorbeeld ouetehuise, kwekerye en motorwasserye.
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op ad hoc-basis bestuur word deur administrasie.
Bogenoemde vervang vorige beperkings.
"Die situasie in Albertinia sal gemonitor word en strenger beperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne versleg. Vlak 2-waterbeperkings is nog steeds vir die res van Hessequa geldig," sê Budricks.
"Water is 'n skaars hulpbron en in tye van onseker weerpatrone moet ons gebruik so aanpas dat ons nie die bronne negatief affekteer nie."
Vorige artikel: Vlak 3-waterbeperking vir Albertinia
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'