Update
RIVERSDAL NUUS - Vyf verdagtes wat na bewering betrokke was by die moord op Heila Kilian op 16 April 2018, het Woensdag 27 Februarie in die landdroshof hier verskyn.
Kilian is doodgeskiet toe sy en haar suster Brenda Thomas, haar man David en 'n vriend, Shaun Vorster op hul kleinhoewe buite Stilbaai gebraai het. Sy het by haar suster-hulle gekuier.
Vyf mans, in oranje oorpakke geklee en met klapmusse op, het hulle oorval en beroof van kontant, vuurwapens en 'n jagmesversameling.
Vier verdagtes, Sakhumzi Benya (29), Nkosiyethu John Nocuza (24), Msomi Nikani (24) en Monwabisi Maki (22) het op 22 Februarie in die hof op Stilbaai verskyn. Die vier, asook die vyfde verdagte, Xolisane Myoyi (28), wat verlede week in hegtenis geneem is, het Woensdag verskyn.
Benya, wat in Julie verlede jaar in hegtenis geneem is, het reeds om borgtog aansoek gedoen, wat geweier is. Landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen het die saak uitgestel tot 18 Maart, wanneer die ander vier beskuldigdes om borgtog sal aansoek doen. Na verwagting sal die staat dit ook weier. Hulle bly op verskillende plekke in aanhouding.
Kol. Hein Kilian, die slagoffer se man, het voor die aanvang van die hofverrigtinge vir Suid-Kaap Forum vertel hoe moeilik dit vir hom en sy kinders is om ná die moord aan te pas.
"Dit is vir my onmoontlik om te verwerk dat sy op só 'n wyse vermoor is. Sy was een uit 'n miljoen; sy was binne en buite ewe mooi. Sy het soveel vir ander mense omgegee – meer as 1 000 mense het haar begrafnis bygewoon. Dit was 'n sinnelose moord wat 'n klomp mense – gesinne, vriende en vriendinne – se lewens geraak het.
"Wat dit erger maak is dat ek 'n polisieman was. Ek was hoof van die Onluste-eenheid. En sy kom Stilbaai toe, 'n plek waar nie veronderstel is om misdaad te wees nie en sy word hier vermoor. Die nagevolge is onbeskryflik. Daar is nie woorde in die woordeboek om dit te definieer nie.
"Dit is nou 10 maande sedert sy vermoor is. Sy het om 21:08 daardie aand vir my 'n laaste boodskappie 'Love u Love u' gestuur; 'n uur en 'n half later het hulle haar geskiet. Sy sou op 5 Februarie 64 geword het. Dit was die eerste Kersfees en Nuwejaar sonder haar en nou ook haar eerste verjaarsdag wat ons nie saam was nie."
Heila het ook haar twee susters, Isabel en Brenda, asook vier kinders, Eugene, Anton, Zane en Marike van der Linde en sewe kleinkinders agtergelaat.
"Dis vir die kinders ook erg, maar hulle het mekaar en Marike het haar dogtertjie. Maar vir my is dit onmoontlik om te verwerk. Hierdie gemors het my hele lewe opgedonner, ek kom nie aan die gang nie…"
Lees vorige artikels:
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'